Update
HEIDELBERG NUUS - Die Young Royal Shepherds Kersfeeskoor het Sondag 29 April hul dank aan hul getroue ondersteuners, asook die breë gemeenskap betoon deur hul silwerware tydens hul optog in die woonbuurt ten toon te stel.
Die koor het wel die jaar aan die B-raad kompetisie van die Suid-Afrikaanse Kersfees Koreraad deelgeneem. Hulle het byna skoonskip gemaak in alle afdelings van die kompetisie op Worcester, Sondag 8 April. Hulle het ook die gesogte solo-afdeling gewen met hul aanbieding van Lord I have loved the Habitation.
Tydens die optog deur die strate het die koor by verskeie wonings aangedoen waar daar sterfgevalle of siekte was. By elke woning waar hulle aangedoen het, het hulle die gesinne met 'n lied en gebed bedien. Thomas Meyers, voorsitter, het al die lede en ondersteuners vir hul bydrae tot die sukses van die koor bedank. Hy het ook onderneem om die gebaar jaarliks voort te sit.
Hy het 'n beroep vir finansiële ondersteuning vanuit die gemeenskap gedoen sodat hulle veral meer jongmense in die koor kan oplei om een of meer musiekinstrument te bespeel.
Meyers het gesê: "Buiten die geleentheid om 'n instrument te kan bespeel, help die koor ook skaaf aan dissipline en karakter bou van die lede."
Enigiemand wat by die koor wil aansluit of 'n skenking wil maak kan Meyers skakel by 073 150 8198.
Young Royal Shepherds Kersfeeskoor se lede spog met hul silwerware wat hulle tydens die kompetisie op Worcester opgeraap het. Thomas Meyers staan voor heel links. Foto Clive Pretorius, korrespondent
IN SHORT
The Young Royal Shepherds Christmas Choir gave thanks to their loyal supporters as well as the community on Sunday 29 April. During a competition on 8 April in Worcester, they won the solo section with the song Lord I have loved the Habitation. They marched through the streets and stopped at homes where there was either death in the family or someone was very ill. Those families were honoured with a song and prayer.
Lees 'n vorige artikel: Kersfeeskoor bedien gemeenskap
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'