RIVERSDAL NUUS - Drie van die pastore wat die Amaliënstein Lutherse kerk, gedien het, was van Riversdal. Dié gemeente het op Sondag 16 September hul 165ste bestaansjaar gevier.
Die gemeente is op 16 September 1853 deur sendeling Friedrich Wilhelm Prietch gestig wat leraar vanaf 1853-1859 was.
Die Riversdallers wat die gemeente gedien het, was pastoor David Rudolph Johannes Groenewald vanaf 1936.
Hy word later leraar van die Riversdal-gemeente en skoolhoof van die Lutherse Berlynse sendingskool (nou Voorwaarts Primêr). Hy is op 6 September 1956 oorlede.
Pastoor Chris Hendricks was vanaf 1978 tot 1979 verbonde aan die gemeente. Die familie verhuis later na Swede vanaf 1990-2006; en die huidige leraar pastoor Ruth Adams (néé Faroa) dien die gemeente vanaf 2016. Onder haar leiding is die kerkgebou netjies gerestoureer en geverf.
Die feesnaweek, wat uit 'n basaar, kooruitvoerings en dankseggingsdiens bestaan het, was 'n reusesukses. Die orrelis tydens die diens was pastoor Ferdinand Groenewald, oudinwoner en seun van pastor David RJ Groenewald.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'