STILBAAI NUUS - Dit gons op sosiale media oor kinders wat laatnag, veral in die vakansietyd, in Stilbaai se strate ronddwaal en lukraak klippe op huise se dakke gooi.
Daardie tyd van die nag kan niemand sien of daar sonpanele geïnstalleer is nie en sou een beskadig word is dit groot skade. Die gooier kan hom of haar natuurlik ook misgis met die hoogte en afstand en 'n ruit of twee uitgooi.
Hier woon baie bejaarde mense in Stilbaai en om in die middel van die nag met 'n harde lawaai wakkergemaak te word is in baie gevalle vreesaanjaend. In hierdie gevaarlike tye van vandag kan mense dink dit is inbrekers wat natuurlik baie traumaties is.
Die anderkant van die muntstuk is dat die eienaar van die huis so skrik dat hy sy 'n vuurwapen uitpluk en gebruik wat tot niemand se voordeel sal wees nie.
Sommige inwoners het reeds so ver gegaan om kameras te installeer om die oortreders te kan identifiseer.
Volgens Stilbaai-buurtwag is daar in die laaste vyf weke reeds drie insidente gerapporteer, waarvan daar in een geval 'n sonpaneel beskadig is.
Dit is natuurlik 'n kriminele oortreding en inwoners word gevra om sulke insidente onmiddellik te rapporteer.
Indien enigiemand weet of vermoed wie die oortreders is word hulle aangemoedig om die gevolge van hulle optrede aan hulle te verduidelik of die ideaal sal wees om dit aan die polisie te rapporteer.
Die buurtwag en polisie kan nie alleen hierdie stryd wen nie en as jy so 'n voorval sien rapporteer dit onmiddellik by 028 754 6104/5.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'