Update
JONGENSFONTEIN NUUS - Die gestrande walviskarkas aan die kus van Jongensfontein gaan verwyder word.
Die Hessequa-munisipaliteit het verlede week te kenne gegee dat die 40 ton 15 meter lange spermwalvis, wat tot die physeter catodonfamilie behoort weens ongunstige omstandighede onverwyderbaar is.
Didi Budricks, munisipale kommunikasiebeampte het egter Dinsdagmiddag, 9 September in 'n persverklaring gesê die onlangse gure weer wat per toeval ook met 'n springgety gepaard gegaan het, het die situasie op die perseel aansienlik verander omdat die karkas landwaarts geskuif het.
"Dit is dus bereikbaar en die munisipaliteit is in die proses om die nodige reëlings te tref om die verwydering daarvan te bewerkstellig," aldus Budricks.
Sy sê die primêre rede vir verwydering is die komende feestydperk en die gevaar wat haaie vir swemmers en branderplankryers in die nabye omgewing inhou.
Sy het gemaan dat kennis geneem moet word van veiligheidsreëls wat van toepassing sal wees sodra alle logistieke reëlings in plek is om die walvis te verwyder Die veiligheidsreëls sluit in om konflik tussen die publiek en die operateurs te vermy. "Wetstoepassers sal ontplooi word om die publiek te verhoed om die onmiddellike omgewing te betree."
Tydens die verwyderingsproses sal strande sover as Stilbaai gesluit wees. Vir 'n tydperk van twee dae na die karkas verwyder is sal monitors in die omgewing van Jongensfontein sigbaar wees, wat die tussengetysone sal patrolleer ten einde te verseker dat die karkas in totaliteit verwyder is en niks in die nabye omgewing agtergelaat was nie.
"Die munisipaliteit rig 'n waarskuwing aan die branderplank-gemeenskap om waaksaam te wees en indien moontlik vir die interim gebruik te maak van strande wat nie naby die Jongensfontein omgewing geleë is nie," het Budricks bygevoeg.
Vorige artikels:
- Walviskarkas gaan wel verwyder word
- Gestrande walvis gaan nie verwyder word nie
- Walviskarkas by Jongensfontein
'Ons bring jou die nuutste Jongensfontein, Hessequa nuus'