HEIDELBERG NUUS - Die groot aanklagwolk van seksuele aanranding, wat vir meer as twee jaar oor 'n plaaslike polisielid se kop gehang het, is finaal opgeklaar toe hy onlangs onskuldig bevind is.
Kapt. Mervyn Zana, voormalige Vispolhoof in Heidelberg, het weer op 25 Augustus vlugtig hier in die Riversdal-streekhof op aanklag van seksuele aanranding verskyn.
Hy is egter onskuldig bevind en ontslaan.
Die voorval het glo op 10 Mei 2021 plaasgevind toe Zana 'n vroulike lid na bewering onbehoorlik in die dienssentrum sou betas het. Zana is op 27 Julie 2021 ná 'n interne ondersoek ontslaan nadat daar ook protesoptogte deur plaaslike inwoners teen hom gehou was.
Hy het intussen verskeie kere in die plaaslike landdroshof op die klag verskyn voordat die saak onlangs na die streekshof oorgeplaas is.
Intussen het hy die arbitrasiegeskil, wat op 19 November 2022 teen hom gebring is, gewen. Hy was veronderstel om op 1 Desember 2022 te begin werk, maar is na 'n gesloer eers weer op 13 April vanjaar in Riversdal in sy pos aangestel.
Zana sê dat hy in gesprek is met sy regsverteenwoordiger om vas te stel watter regstappe hy kan neem teen sy kollega wat die klag aanhangig gemaak het. Hy oorweeg dit ook om teen ander wat klagtes teen hom gefabriseer het, op te tree.
Volgens Zana het die aantygings hom sowel as sy gesin en ander familielede skade berokken.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’