HEIDELBERG NUUS - KANSA het Vrydag 30 Augustus die werkers by die Bentonite-myn voorkomend vir bors- en prostaatkanker getoets.
Die myn se gesondheidskomitee onder leiding van Kobus Francis het gereël dat sr. Desiree van Deventer van Heidelberg-daghospitaal en Cynthia Lotz van KANSA hulle as deel van die myn se vennootskap met die nie-winsgewende organisasie besoek.
Dertig 30 bloedtoetse vir prostaatkanker, 40 borsondersoeke, ses toetse vir tuberkulose en vigstoetse is gedoen.
Volgens Van Deventer is dit die grootste aantal bloedtoetse wat nog op een slag gedoen is en sy is baie dankbaar vir al die borsondersoeke wat uitgevoer kon word.
Gesondheidsbewusmaking is bevorder deur die vroue te leer hoe om self 'n borsondersoek te doen. Hulle is ook ingelig oor wanneer en waar om hulp te vra met betrekking tot vrouegesondheid. Die myn het sanitêre doekies en vroulike kondome aan hulle uitgedeel.
Helmut Gemurr van die myn het die prostaat-bloedtoetse geborg en ook sy eie PSA-telling laat toets.
"Dit is werklik wonderlik om sulke ondersteuning uit die gemeenskap te geniet," het Marie Paige, woordvoerder van KANSA Heidelberg gesê.
Prostaat-bloedtoetse is by die daghospitaal teen R120 beskikbaar.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'