Gallery Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - So ver as wat die oog kan sien staan die kanolalande goudgeel - en byeboere kyk met begerige oë daarna.
Want in die Suid-Kaap word voeding vir bye weens die droogte al minder en bygetalle kwyn.
'n Bye-inligtingsdag op Saterdag 27 Julie by die Drogerivier-gemeenskapsaal op Die Vlakte het die gebrek aan en afname in geskikte voeding, maar ook die nie-konvensionele aanteel van byelarwes en koninginbye om nuwe swerms te vorm, toegelig.
Charles Salmon van die Wes-Kaap landboudepartement het die huidige benarde situasie geskets. In die Wes-Kaap, waar die Kaapse-heuningby (Apis mellifera capensis) voorkom, het die droogte wat byevoeding vernietig, tot 'n derde van die bye uitgewis. Dis 'n krisis, want die groeiende vrugtebedryf, wat onder meer kersies, bloubessies en amandels insluit, benodig 65 000 bestuiwingseenhede per jaar, terwyl die saadbedryf 35 000 bestuiwingseenhede kort. Albei bedrywe beplan groot uitbreidings en veral in September en Oktober, wanneer beide bedrywe bestuiwingskorwe nodig het, is daar te min bestuiwers.
Kyk 'n video hieronder:
Min navorsing is nog gedoen oor kanola se behoefte aan bestuiwers, maar dit is bekend dat monokultuur-aanplantings en onoordeelkundige gifbespuiting van kanola van die belangrikste bydraende faktore tot byevrektes is. Kanola word deur wind bestuif, maar die teenwoordigheid van bestuiwers lewer tog 'n positiewe bydrae.
Bye het beslis kanola nodig want dit kan goeie voeding bied vir swerms wat vermeerder word deur middel van die teling van byelarwes en koninginbye. Mike Allsopp, wie se navorsing by die Landbounavorsingsraad op bye fokus, het verduidelik hoe hy dit doen. Slegs 13 van die gehoor van sowat 100 het dit al splitsing gedoen, maar nog nie een het kans gesien vir die misterie van koninginbyteling nie.
Riëtte van Zyl van Riebeek-Wes het haar besondere liefde vir die hardwerkende bye so verduidelik: "Die dag toe ek sien hoe verflenter 'n by se vlerkies is dat sy nie eens meer met 'n drag stuifmeel kan korf toe vlieg nie, is my bewondering vir hulle gebore."
Die Suid-Kaap Byebedryfver-eniging (SKBBV) was die gasheer vir die dag. Volgens André de Jager, voorsitter, het talle kommersiële en ontwikkelende lede van die Wes-Kaap Byebedryfvereniging (WKBBV), soos Francois Schippers van Hopefield aan die Weskus, wie se familie-onderneming 450 korwe het, die dag bygewoon.
Mike Allsopp van die Landbounavorsingsraad verduidelik sy manier om byelarwes en koninginne te teel om die aantal byeswerms te vermeerder. Foto’s: Tisha Steyn
Byeboere, gepantser teen die angels, kyk hoe Mike Allsopp korwe met nuwe larwes en koninginbye wat hy geteel het, uitplaas.
Lees 'n vorige artikel hier: Kanola kan byebedryf red
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'