MELKHOUTFONTEIN NUUS - Die Soetefontein Senior Burgerklub van Melkhoutfontein het Woensdag 19 Oktober 'n pragtige kankerbewustheidsgeleentheid by Soeterus-versorgingsoord vir bejaardes gehou.
Hulle het die dag begin met 'n bewustheids stap deur 'n gedeelte van Melkhoutfontein. Christel Cloete het die groep met sang en gebed gelei.
Almal was in pienk getooi en die passie waarmee hulle gesing het, het die toon vir 'n baie geslaagde dag aangegee.
Sers. Chrissie Lewaks van Stilbaai het die verrigtinge afgeskop met 'n geselsie rondom trauma en gesinsgeweld en gesê as jy iemand aan die dood afstaan of jy is in 'n rolstoel, is jy breekbaar en afhanklik.
"As jy dus weet van 'n gestremde persoon moet jy tyd afstaan en daardie persoon ten minste een keer 'n maand besoek. Al gaan sit jy net en gesels."
Marlene Erasmus van Kansa in Stilbaai, Jongensfontein en Melkhoutfontein het gesê dat ondersteuning die grootste deel van kankerbehandeling uitmaak. Sy is self deur die trauma van kanker en nadat sy die tweede keer genees is kon sy nie meer 'n voltydse beroep beoefen nie.
Die geleentheid om by Kansa betrokke te raak het opgeduik en dit is nou haar lewenstaak om kankerpasiënte te help en te ondersteun.
Kansa werk ook aktief met die gades van kankerpasiënte en leer hulle hoe om die pasiënt te ondersteun. "Onthou, die gades gaan ook deur trauma en dit is ewe belangrik dat hulle weet hoe om dit te verwerk."
Erasmus het afgesluit deur te sê dat hulle 'n groot behoefte het aan gebreide musse vir kinders. Sy het ywerige breiers aangepor om vir Kansa te brei.
Magda Niemand van Lilliput-faam het getuig dat sy in 2000 borskanker gekry het. In daardie stadium het sy ver van God af geleef en het sy ook haar bors verloor. Later het die kanker teruggekeer. Sy het ook die verskriklike nuus gekry dat sy net twee jaar oor het om te leef.
Sy het toe haar werk bedank en al haar pensioengeld uitgemors.
"Maar God het egter ander planne gehad en ek is toe nie ná twee jaar dood nie." Die kanker het toe al versprei tot in haar rugwerwels en sy het besef dat sy nie sonder God kan leef nie. Sy oorleef nou al 22 jaar.
Ongelukkig het die kankermedikasie oor al die jare haar niere laat ingee en sy kry tans nierdialise. Sy mag ook net 350 ml vog inneem per dag. "Alles is egter die moeite werd, want ek stap die pad saam met God," sê Niemand.
Rdl. Reneé Davids sê as jy een keer per maand iemand in nood besoek sonder vergoeding, moet dit vir jou genoeg vergoeding wees. Dit is dalk net in daardie stadium wat die persoon jou regtig nodig het, al is dit net om 'n paar bemoedigende woorde te hoor. "Jy lig hom op en hy weet môre is nog 'n dag."
Christel en Albert Cloete, voorsitter van Soetfontein Senior Burgers het 'n spesiale huldeblyk gebring deur 'n kers aan te steek vir 'n sendeling uit Jackson, Mississippi, Clara Fortner, wat uitreiking kom doen het in die Kaap. Die borskankerbewusmakingsprogram was die hoogtepunt van haar sendingwerk in Kaapstad.
Albert het almal wat kom getuig het uit sy hart bedank. Hy het gesê mense moet omgee en uitreik na mekaar. "Geloof, hoop en liefde. Kanker is gesigloos en almal moet veg daarteen."
Marlene Erasmus van Kansa in Stilbaai, Jongensfontein en Melkhoutfontein lewer haar praatjie. Foto's: Johan Victor
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'