Gallery Video
HEIDELBERG NUUS - "As mens die woord kanker hoor, dink jy dadelik aan die dood, maar eintlik beteken dit lewe, want dis nie soos 'n hartaanval nie - kanker gee vir jou tyd."
Dit is die woorde van kankeroorwinnaar Lefebré Uys, wat gaste tydens 'n Koppie vir Kansa Vrydag 13 Oktober by die biblioteek toegespreek het.
"Dit gee vir jou tyd om jou besigheid reg te maak, om vrede met iemand te maak, jou testament in orde te kry, maar bo alles gee dit jou tyd om met jou Here reg te maak. Dan kan jy kanker hanteer; jy hoef nie so bang te wees nie."
Sr. Desiree van Deventer het ook haar ervaring met kankerpasiënte gedeel. Sy beveel vrywilligers aan om by die afsterwe van 'n kankerlyer te help waar jy kan.
"Die laaste drie dae is gewoonlik die moeilikste, want die pasiënt wil nie eet nie en dit laat die familie skuldig voel.
"Jy voel jy kan niks doen nie, maar jy kan die familie gerusstel dat wat hulle doen, reg is."
Heidelberg het tans 131 kankerpasiënte en Van Deventer het gaste aanbeveel om 'n vrywilliger te word.
"Dit is 'n groot besluit om betrokke te raak by ander mense se hartseer, want jy stap 'n pad saam met hulle, jy ervaar hulle pyn, maar dis 'n voorreg."
Kyk 'n video hieronder:
Miriam Stamps, Suzette Fourie en Rita Koegelenberg het die mooiste kleurvolle komberse gebrei en aan Van Deventer oorhandig om vir pasiënte te gee wat dit nodig kry.
Terwyl gaste heerlik saamkuier het hulle na rustige klaviermusiek in die agtergrond geluister.
Lees 'n vorige artikel: Kanker, 'n kans om reg te maak
ARTIKEL, VIDEO EN FOTO'S: ALETTA SUTHERLAND, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'