HEIDELBERG NUUS - Gr. 12-leerders wat hulle as entrepreneurs wil bekwaam, het reeds op 24 en 25 Januarie spesiale klasse bygewoon.
Mnr. Trevor February (Mister Thysie) het gereël dat Trevor Forbes vir 51 leerders werksessies in aspekte van besigheidstudie aanbied.
Dié leerders het vyf van Hoërskool Langenhoven en een van Hoërskool Heidelberg ingesluit.
"Die kursus dien nie net as voorbereiding vir die matriekeindeksamen nie, maar ook om hulle gereed vir 'n loopbaan na skool te maak," het February gesê.
Forbes, wat by Wes-Kaap Telematiese-aanbiedings betrokke is, spits hom daarop toe om besigheidstudie as 'n vak meer interessant vir leerders te maak. Sodoende wil hy entrepreneurskap onder voornemende sakelui bevorder.
Tydens die werksessies wat 100% bywoning vereis het, is klem op onlangse wetgewing gelê, gepoog om werkslading te versnel en aandag aan informele aspekte gegee. Vraestel 1 word blykbaar dikwels nie deur die leerders beantwoord nie en met die program probeer Forbes hulle voorberei om dit ook te voltooi.
Forbes het verduidelik die pilare van die telkaart van 'n suksesvolle onderneming, naamlik bestuur, eienaarskap, voorkeurverkryging, koöperatiewe sosiale ontwikkeling en gelyke-indiensneming is van groot belang.
As hulle hierop fokus, behoort hulle goeie punte in die eksamen en later ook sukses in hul loopbaan te behaal.
"Die leerders het hierdie soort benadering baie geniet en passievol aan al die verrigtinge deelgeneem," het February gesê.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'