HESSEQUA NUUS - Vir meeste mense is die Desembervakansie die enigste tyd wat hulle saam met familie kan geniet en daar word met groot verwagting daarna uitgesien.
Die beplanning begin reeds maande vooraf en motors, karavane en bote word versien.
Dan breek die groot dag uiteindelik aan en die lang pad word aangedurf. Maar… ongelukkig laat baie mense na om veral hul kinders op gevare te wys, soos sleurstrome, springgety en om te swem waar nie lewensredders aan diens is nie, oormatige sonbrand en bestuur met ’n bier agter die blad.
Ry mooi en kom veilig daar
Alkohol, spoed, uitputting en plein roekeloosheid is die moordenaars op die pad.
Dis hulle wat die jolige feestyd in 'n oogwink in 'n tragedie kan verander. Die padsterftesyfer oor die langnaweek in die Wes-Kaap vertel die hartseer verhaal want sedert Vrydag 13 en Maandag 16 Desember het 13 mense op die paaie omgekom. Hessequa het die slagting tot dusver vrygespring, maar enigeen van hierdie moordenaars kan die bordjies verdoemend verhang.
Drie van die 13 slagoffers het in buurdorpe in die Tuinroete omgekom. 'n Vrou (31) is 19:00 Vrydag 13 Desember by Groot-Brakrivier in 'n ongeluk dood; 'n voetganger, 'n 43-jarige vrou is 20:13 by Knysna doodgery. Om 02:40 op Maandag 16 Desember het 'n 27-jarige man op die N2 by Plettenbergbaai beheer oor die Opel Corsa wat hy bestuur het verloor. Die voertuig het omgeslaan en gerol. Twee mans en 'n vrou is ernstig beseer.
Twee persone is Saterdag dood in 'n botsing tussen twee voertuie op die N1 by De Doorns.Alkohol
Wes-Kaapse Verkeer het onderneem om meer sigbaar op die paaie te wees en veral te let op bloedalkoholvlakke en spoed. Vrydag en Saterdag is altesaam 2 498 voertuie afgetrek en 1 118 persone se bloedalkoholvlak is getoets. Altesaam 48 is vir dronkbestuur gearresteer. 'n Motorbestuurder van Mosselbaai het die meeste alkohol in sy bloed gehad - 1.11 mg/1 000ml, wat vier keer meer as die toegelate perk is.
Spoed
Een van die vier persone wat die vinnigste gery het, naamlik 84 km/h in 'n 60km-sone, is van Knysna. 'n Mosselbaaier is vir roekelose en nalatige bestuur aangekeer.
Moegheid
In 'n noodlottige ongeluk wat Vrydag omstreeks 17:55 op die N1 tussen Matjiesfontein en Laingsburg plaasgevind het, het die bestuurder van 'n Nissan Navara beheer oor die voertuig verloor. 'n Vroulike passasier het uitgeval en is op die toneel dood, terwyl verskeie ander beseer is.
Die N1 is berug daarvoor dat motoriste wat die lang pad van die noordelike provinsies na die kus vat van uitputting agter die stuur aan die slaap raak. Persone wat lang afstande aflê, moet elke twee ure of 200 km stilhou en bene rek. Moegheid is 'n sluipmoordenaar, want voor jy jou kom kry, val jou oë toe en jy word met 'n slag 'n slagoffer.
Roekeloosheid
Gehoorsaam die padverkeersreëls: 'n Sperstreep word aangebring wanneer jy nie ver genoeg kan sien of daar aankomende voertuie is nie. Wag geduldig tot jy veilig kan verbysteek. Nog 'n reël is dat jy NIE op jou selfoon mag besig wees terwyl jy bestuur nie. Gordel vas en maak veral seker jou kinders is ook vasgegespe.
Moenie drink en loop nie
Sewe van die 13 slagoffers op die Wes-Kaap se paaie was voetgangers. Volgens Kenny Africa, Wes-Kaap verkeershoof, moedig die Kom Veilig Tuis-veldtog motoriste aan om meer oplettend te wees en voetgangers om hulself meer sigbaar te maak deur ligte of weerkaatsende klere te dra, veral in die nag en vroegoggend of wanneer dit reën of mistig is.
Talle voetgangers wat op die pad sterf se bloedalkoholvlak is baie hoër as die toegelate perk vir motorbestuurders. Hulle moet wegbly van besige paaie af.
Wees water- en son-slim
Gebruik die pienk reddingsboei om mense in nood te help dryf tot hulp opdaag. Dis die tyd vir baljaar in die water en spog met sonbruin lywe.
So heerlik as wat dié aktiwiteite is, net so vinnig kan dit dodelik word indien water en son nie met die nodige voorsorg benader word nie.
Die NSRI het die volgende wenke vir waterveiligheid
- Swem net wanneer lewensredders aan diens is en bly tussen hul vlae;
- Moenie iemand wat in die moeilikheid in die golwe beland probeer help as jy nie seker is wat om te doen nie. Die NSRI word dikwels uitgeroep na een noodgeval, net om twee persone te vind wat gered moet word omdat die persoon wat gaan help het, ook in die moeilikheid beland het;
- Die NSRI voorsien helder pienk reddingsboeie by strande wat na mense wat in nood beland gegooi kan word om hulle te help dryf tot hulp opdaag;
- Maak seker van die voorspelde weer en windspoed asook tye vir hoog- en laagwater wanneer 'n wateruitstappie beplan word;
- Leer hoe om sleurstrome (rip currents) te ontsnap;
- Alkoholgebruik en swem meng nie;
- Moenie kinders sonder toesig deur 'n volwassene wat kan swem, in die water laat gaan nie;
Saam met kristalhelder somerdae gaan hoë temperature. Indien die lug boonop baie vogtigheid bevat kan dit lewensgevaarlike gevolge inhou omdat sweet nie kan verdamp nie. Die liggaam se basistemperatuur bly gevolglik hoog en dit plaas groot spanning op organe soos die longe en hart.
Wenke om koel te bly
- Drink genoeg water en vermy oormatige inname van alkohol- en kafeïen;
- Beperk strawwe liggaamlike aktiwiteite tussen 10:00 en 14:00;
- Dra lospassende klere van natuurlike vesels soos katoen en linne;
- Vermy waterbestande sonskerm, want dit beperk sweet nog meer;
- Beperk die inname van sterk gegeurde kosse;
- Spoel polse met koue water af vir tot 30 sekondes om 'n hoë liggaamstemperatuur te help verlaag.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'