Verskeie versoeke is ook in die verlede ontvang vir die moontlike aankoop van Julie-se-baai. Gedurende April en Augustus 2007, asook Desember 2008 het die Hessequa raad baie duidelik aangedui dat die baai nie vervreem gaan word nie.
Hulle het besluit dat daar per tender geadverteer word vir die verhuring daarvan vir die Desembervakansie vir aanwending as kampeerterrein, op voorwaarde dat die suksesvolle tenderaar self verantwoordelik is vir die voorsiening van alle dienste in die tydperk. Dit gebeur nou reeds vir die afgelope paar jaar en sal dieselfde werk tydens die opkomende seisoen.
Geskiedenis
Voordat daar enige sprake was van Stilbaai as 'n vakansieoord was die Kafferskuilsrivier-mond (nou Goukou) bekend as 'n visvangplek waar met platboomskuite die see ingegaan het om te vang. Hierdie vissermanne het 'n fyn aanvoeling gehad vir die giere van die diep waters en kon met redelike sekerheid die dag vantevore bepaal of dit veilig sou wees om die volgende dag see toe te gaan.
Laat namiddag het hulle dan die rivier afgevaar en naby die mond by die inhammetjie, wat toe bekend was as Tollasbaai, anker gegooi. Sodra dit donker word gaan hulle met fakkels seekat op die rotse soek om vir aas te gebruik. Die fakkels was gemaak van bossies riet waarvan die punte in teer gedoop is.
Later jare is daar 'n sloep in die klippe by die Skuitpad gemaak en daarna het vissers die vorige dag deur die mond gekom en by die Skuitpad oornag. Wanneer die platboomskuite terugkeer het hulle met die rivier opgeroei tot by Julie-se-baai waar die vis op perdekarre gelaai is om na Riversdal te vervoer te word en soms nog verder ook.
Vis is ook gedroog en die droë vis is gewoonlik saam met waens, wat kalk van Melkhoutfontein na Ladismith vervoer het, gestuur om daar vir droë vrugte en witklip geruil te word. In vakansietye het die besoekers die koms van die skuite gretig afgewag. 'n Oud-Stilbaaier vertel ook dat die mense van Riversdal en distrik in die ou dae gewoonlik na Stilbaai gegaan het vir die Desembervakansie, maar die boere van die Klein-Karoo het in die Maart/April vakansie, nadat hulle gepars het, gegaan. Die kampeerplek, of uitspanning was op die oosterlike oewer van die rivier. Die enigste pad vanaf Julie-se-baai was al langs die kant van die rivier en kon net gebruik word met laagwater.
Daar was 'n drif suid van waar die brug vandag is, maar hierdie drif is met die groot vloed in 1902 weggespoel. Daarna het die mense wat hul waens oorkant toe wou neem eers die goed afgelaai om met skuite oorgeroei te word en dan het die osse met die wa deur die rivier geswem.

Julie-se-baai voor dit besiger geraak het.