Gallery
HEIDELBERG NUUS - Skaars drie maande na ’n bejaarde man van Slangrivier se lewelose liggaam in die aanhoudingselle op dié dorp aangetref is, is die liggaam van ’n jong ma ook Maandagoggend, 21 Desember in die selle gevind.
Chevon September (30), ma van twee, se liggaam is na 05:00 ontdek. Die oorsaak van haar dood is nie amptelik bekend nie, maar sy het haarself na bewering met haar hemp opgehang.
Die plaaslike polisie, asook die Suid-Kaap polisie se kommunikasiebeampte, kapt Malcolm Pojie wou geen inligting in die stadium verskaf nie.
Pojie het slegs bevestig dat alle navrae aan die onafhanklike klagtedirektoraat (OPOD) verwys word, omdat hulle die ondersoek moet behartig.
Navrae is aan OPOD nasionaal, sowel as provinsiaal gerig, maar teen Dinsdag, 22 Desember is nog geen terugvoering ontvang nie.
Die skoknuus het soos ’n veldbrand deur die gemeenskap versprei en tot gevolg gehad dat inwoners buite die polisiestasie begin saamdrom het. James Gelderbloem, wyksraadslid, het die familie buite die polisiestasie ondersteun.
Foto's: Jong ma dood in sel aangetref
Dié nuus, asook die vorige sterftes van verskeie inwoners nadat hulle na bewering deur polisielede aangerand is, het die ontevredenes warm onder die kraag.
Die oorledene se ma, Edith September, het gesê dat sy baie vrae het. Die oorledene het glo die lid wat haar buite hul huis gearresteer het, gesmeek om haar te los sodat sy haar babadogter kon borsvoed.
Volgens Gelderbloem het lt kol Sipho Dyani, plaaslike stasiebevelvoerder teenoor hom genoem dat September vir oproerige gedrag in die openbaar gearresteer en toegesluit was.
Dyani wou egter geen kommentaar lewer nie, maar Pojie het dit bevestig. Gelderbloem het ook genoem dat eerw Chris Nissen, Wes-Kaap menseregtekommissaris, later die dag die familie, asook die polisiestasie sou besoek.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'