RIVERSDAL NUUS - Johan Oosthuizen (78) van Riversdal het deur die jare stories oor interessante mense en gebeure geskryf wat oor sy pad gekom het, maar eindelik besluit om dit in boekvorm uit te gee.
Dié boek, Die vreeslose brandertemmer van Vleesbaai bevat verskillende stories van verskillende mense, ook van inwoners van Riversdal "van Jan Bike se tyd af" - met toestemming natuurlik.
"My oë en my ore en my hart laat my skryf. As ek 'n mooi mens raakloop en ek wil sy storie skryf, skryf ek sy storie," vertel hy. "En as ek 'n wonderlike ding belewe, skryf ek daaroor. Ek ontmoet mense, en mense het stories." Hy sê dat hy nooit gedink het hy kan 'n boek skryf nie, maar baie van die mense vir wie hy sy storie gestuur het, het vir hom gevra wanneer kom die boek dan.
Johan het onderwys in die ou Transvaal (nou Noordwes) gegee, waarna hy in 1996 vroeg afgetree en na iemand se plaas buite Riversdal omgesien het tot die persoon afgetree het. Hy en sy vrou is in die jaar 2000 na Engeland, waar hy vir slegs ses maande onderwys daar wou gee, maar dit het later vyf jaar geword. Daarna is hy die opsigterspos by die skool aangebied, wat hy vir drie jaar gedoen het. Hy en sy vrou, Maryna is toe na Thailand.
"Daar het die Here ons geroep om betrokke te raak met kerkplanting saam met die Koreaanse kerk, wat ons vir twee jaar gedoen het."
Aanvanklik wou Johan sy stories oor Engeland, Nederland en Thailand ook in dieselfde boek laat verskyn, maar sy uitgewer het hom afgeraai omdat hy meer as genoeg Suid-Afrikaanse stories gehad het en hy dit eerder in 'n volgende boek kan doen. Hy is ook besig om sy stories bymekaar te maak van gestremdes en mense wat teen die grond was, maar weer opgestaan het. Hy het ook genoeg vir 'n kinderboek, vertel hy.
In 2016 het hulle na Riversdal teruggekeer. Die egpaar het vier kinders, twee dogters en twee seuns. Een van die dogters is al vir jare in Nederland, 'n seun is in die Kaap en die ander twee is gemoeid met 'n projek in Hammanskraal.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'