STILBAAI NUUS - Pieter Mostert, voorsitter van Jagersbosch-gemeenskapsorgsentrum se direksie, het namens die direksie en bestuur van Jagersbosch een en almal wat van die basaar so 'n reusesukses gemaak het bedank.
Daar is lang ure ingesit deur amper 100 vrywilligers om alles gereed en in plek te kry om die Stilbaaiers en vakansiegangers in hulle hordes te ontvang en gelukkig huis toe te stuur.
Volgens Karel Nel, sekretaris, was Saterdag 2 Julie 'n lieflike mooiweersdag ingepas tussen die verskeie kouefronte wat hierdie winter oor die Suid-Kaap spoel. Toe die rooidag breek was daar al lankal 'n bedrywigheid by Stilbaai se gemeenskapsaal.
Daar was oral motors, die saal se ligte was aan, die tafels het gekreun met die lekkerste eetgoed en die interessantste goed om te koop.
Om en by agtuur het Pieter Mostert, voorsitter van die direksie, die hoofdeure van die saal oopgemaak en die eerste ondersteuners het binne gestroom. Nadat pastoor Kobus op gepaste wyse die basaar met Skriflesing en gebed geopen het, was dit volgens Karel "alliepad makietie" tot eenuur toe.
Die lootjies by die deur, vir die slagskaap, het soos soetkoek verkoop, die pannekoekspan van die Hervormde Kerk en die vleistafel was soos gewoonlik baie gewild en daar was selfs gratis oogtoetse in 'n ander hoek van die saal.
Die poedingtafel was natuurlik eerste uitverkoop. Wie kan dan nou 'n basaar-poeding uitlos? Huis Stilbaai het diens verrig by die witolifanttafels en daar was dit 'n miernes van bedrywighede.
Stilbaai se Filatelievereniging het 'n pragtige uitstalling gehad van hulle posseëls en Willie Schoombee het ywerig lede vir die vereniging gelok.
Karel sê dan tereg dat dit 'n genotvolle, prettige, geseënde dag was en dit alles ten gunste van Jagersbosch se groot taak, om te help omsien na die versorging van ouer persone in die gemeenskap.
Hy sê dit was 'n wonderlike jaarhoogtepunt, want dit was gedryf deur die oop harte van die gemeenskap, wat alles geskenk het, die harde werk van baie vrywilligers en die Jagersbosch-werkers en bestuur wat ongelooflik hard gewerk het om dinge te laat gebeur.
Jagersbosch-gemeenskap-sorgsentrum se kantoor 'n paar jaar gelede.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’