Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Daar is groot hartseer by J&B Auto Spares in George oor die dood van twee geliefde werknemers, Gert Engelbrecht (53) en JD Stevens (21). Hulle is Woensdag 13 Desember tussen Riversdal en Heidelberg dood in 'n ongeluk toe hulle op pad was na 'n ongelukstoneel waarin vier mense dood is.
Die presiese oorsaak van die ongeluk is in die stadium nie bekend nie en 'n interne ondersoek word gedoen.
Belinda Smit, vrou van die eienaar van J&B Auto Spares, Kobus Smit het vroeër in 'n hartroerende boodskap hulde aan Engelbrecht en Stevens gebring.
Sy skryf: "Met ongelooflike seer harte moet ons vandag die nuus deel dat hierdie twee pragtige mense van die J&B-span na hul hemelse tuiste is. Ons eer jul nalatenskap en ons is dankbaar vir jul ongelooflik bydrae oor die jare. Julle sal so baie gemis word. Julle twee was 'n ongelooflike span saam met elke rit in Wolfie. Amper soos 'n pa-en-seun verhouding. Soos julle saam gewerk het, so het julle 2 saam gegaan ook. Ons bid ook vir jul gesinne. Rus in vrede Gert Engelbrecht (Varkie) en JD Stevens. Rus in vrede."
Die egpaar het Sondag 17 Desember hul hartseer met George Herald gedeel en benadruk dat werknemers by die maatskappy soos een groot familie is en dat sterftes 'n swaar slag is.
Beide was geliefd in die maatskappy en het goed oor die weg gekom met hul kollegas.
Kobus het vertel dat hy verlede Woensdag nog vir Gert gesê het dat hy na die ongelukstoneel sal gaan. Gert wou nie en hy en JD het toe vertrek.
Kort na 17:00 het Kobus 'n oproep van 'n kliënt ontvang. Die het hom meegedeel dat een van hul voertuie in 'n ongeluk betrokke was. "Ek wou dit nie glo nie. In die 30 jaar wat ons bestaan het ons nog nooit so 'n insident gehad nie."
Hy ken Gert al vir 30 jaar en hulle het al 'n lang pad saam gestap. Hy het by die maatskappy gewerk en was vir tussenposes weg. Hy het egter elke keer teruggekeer. "Die soort werk was in sy bloed."
Hy het hom beskryf as 'n hardwerkende, eerlike mens met 'n hart van goud.
"Ons gaan hulle beide mis. Hulle dood laat 'n groot leemte," het hy gesê.
Belinda het gesê JD was baie lojaal en hardwerkend. "JD het gelewe vir sy werk. Hy was iemand wat nooit nee gesê het vir 'n opdrag nie."
Volgens haar was Gert 'n baie presiese soort mens. Hy was baie netjies. "Sy trokke moes altyd netjies en skoon wees. Hy was 'n leermeester vir vele."
Kobus en Belinda het gesê hulle is baie dankbaar teenoor Gert en JD se gesinne. "Ons is dankbaar dat hulle bereid was om hulle met ons te deel. Dit was vir ons 'n voorreg om hulle as deel van die J&B-span te kon hê. Ons eer hul nalatenskap."
Hulle het ook hul dank uitgespreek teenoor die gemeenskap vir hulle hulp en bystand aan die maatskappy en die twee mans se gesinne. Ook vir hul hulp op die toneel en daarna.
Gert word oorleef deur sy vrou, Erika, en 'n dogter.
JD word oorleef deur 'n ouma, oupa, sy ouers en twee broers.
Die familie van die oorledenes het aangedui dat hulle nie kommentaar gaan lewer nie en gevra dat hul privaatheid respekteer word.
'n Roudiens waargeneem deur ds. Pieter Cronje is Dinsdag 19 Desember in die NG kerk Denneoord vir Gert Engelbrecht en JD Stevens gehou. Na die diens het voertuie van die maatskappy die begrafnisstoet begelei deur die strate van George.
Video verskaf:
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’