RIVERSDAL NUUS - Die 30ste interskolekragmeting tussen die twee landbouskole, Oakdale en Boland, is die afgelope naweek met groot sukses aangebied.
Groot getalle toeskouers het gedeel in die goeie gees en atmosfeer wat tydens hierdie dag op Oakdale geheers het. Die gees en trots van leerders van beide skole was duidelik sigbaar tydens hul optrede op die pawiljoen en die intensiteit van hul spel.
Selfs die voorkoms van die 2012-reüniegroep met hul netjiese eenvormige voorkoms, het mens laat besef dat die oudskoliere met trots en respek terugkeer na hul alma mater.
Dis 'n tradisie wat oor jare heen geskep is en waarop die skool baie trots is.
Die kragmeting het reeds Vrydagoggend 25 Augustus op die Riversdal-gholfbaan begin tydens die 18-putjie landbouskole gholfstryd. Oakdale het vanjaar geseëvier met 3½ teenoor Boland se 2½.
Oakdale se o.14-rugbyspanne het die grondslag gelê vir die dag se sukses met goeie oorwinnings. Uit die 18 wedstryde wat op Saterdag 26 Augustus gespeel is het Oakdale 'n totaal van 12 gewen.
Dit was egter die o.19A-span se wedstryd wat bepalend sou wees vir Oakdalers om hul tradisionele 'bulring' te kon maak. Afgesien van duisende toeskouers op die pawiljoen en om die veld, kon die hele Suid-Afrika dit ook op televisie dophou.
Jay-Cee Nel, o.19A-kaptein in aksie.
Na 'n baie goeie eerste helfte waar die Oakdalers met 14-3 voorgeloop het, was dit die Bolanders wat met krag voorspelerspel groot druk op die Oakdalers geplaas het.
Met een minuut speeltyd oor is 'n strafskop aan Boland skuins voor die Oakdale-doelpale toegeken en dit was die Oakdalers wat in sak en as op hul knieë neergeval het. Die losskakel van Boland het egter die maklike skop gemis en die Oakdalers wen die interskole met 14-12.
Oakdalers se tradisionele Bul-ring.
Die blou see van Oakdale-baadjies het binne enkele sekondes die A-veld oortrek en die kreet is op uitbundige tradisionele Oakdale-styl deur Oakdale-leerders, ouers en oudskoliere gedoen. Trane van blydskap was aan die orde van die dag.
Oakdale bedank die gemeenskap van Riversdal en omgewing vir lojale ondersteuning tydens interskole 2017.
Uitslae:
o..14A : 31-0 (Oakdale), o.14B: 12-0 (Oakdale), o.14C: 63-3 (Oakdale), o.14D: 43-0 (Oakdale), o.14 E teen Oker:17-53 (Oakdale), o.15A: 13-10 (Oakdale), o.15B: 3-8 (Boland), o.15C: 35-7 (Oakdale), o.15D: 26-0 (Oakdale), o.16A: 12-27 (Boland), o.16B: 19-3 (Oakdale), o.16C: 29-14 (Oakdale), o.19A: 14-12 (Oakdale), o.19B: 17-30 (Boland), o.19C: 19-13 (Oakdale), o.19D: 0-15 (Boland), o.19E: 5-36 (Boland) en o.19F:10-41 (Boland).
Puntemakers o.19A: Drieë: Jay-Cee Nel (12), Dian Bleuler (1). Doelskoppe: Jay-Cee Nel (12) x 2.
Oakdale se eerste gholfspan is van links: Jaco Pienaar, Armand Bosch, Nico Pietersen, Henk Pienaar en Tiaan Visser. Keano Hendriks is afwesig.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'