STILBAAI NUUS - Internetbedrog het van die Covid-pandemie af ontstellend gestyg en veroorsaak baie probleme, veral vir ouer mense.
Mense in die ouderdomsgroep 40 tot 86 word geteiken met verreweg die meeste tussen die ouderdomme van 60 tot 86 jaar.
Ouer mense word mos maar oor die algemeen gereken as tegnologies gestrem en dit maak dit net makliker vir hierdie gewetenlose skelms.
Volgens kapt. Johan van Tonder, stasiebevelvoerder van die Stilbaai-polisie doen die swendelaars hulle baie keer voordoen as bankamptenare en vra dan vir persoonlike inligting soos byvoorbeeld 'n PIN. Banke sal nooit hierdie inligting oor die telefoon of per e-pos vra nie.
Ander sal weer vir jou sê dat daar 'n erfporsie of ander geld in 'n bankrekening vir jou wag. Jy moet dan jou besonderhede gee of jy moet 'n sekere bedrag betaal om hierdie erfporsie of geld beskikbaar te maak.
Beëindig hierdie tipe oproep so gou moontlik, al voel jy dit is onbeskof van jou kant af.
Facebook verkope
Nog 'n slenter waarmee so baie mense gevang word, is goedere wat op Facebook geadverteer word. Die voornemende koper moet dan eers betaal voordat die produk gelewer word. Maak seker dat die verkoper wettig is.
Enigiets wat te goed klink om waar te wees moet baie versigtig benader word.
Hou jou persoonlike dokumente soos jou ID en bankkaarte veilig, want swendelaars maak maklik bankrekenings oop met jou gesteelde kaart of kloon die kaart en spandeer al jou swaarverdiende geld.
Dit is ook nie altyd maklik om hierdie swendelaars op te spoor nie aangesien hulle nou al sover gaan om die geld wat hulle elektronies by jou steel gebruik om aanlyninkopies in bv. Europa te doen.
Die geld beland dus nooit in hul bankrekening nie.
In hierdie tye waarin ons leef kan almal doen met 'n bietjie ekstra kontant, maar moenie desperaat raak nie.
As jy enigsins twyfel, praat eers met jou bank of met die plaaslike polisie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’