TUINROETE | KAROO NUUS - Die Western Cape on Wellness-program (WOW!) het tot dusver groot sukses in gemeenskappe, werksplekke en gesondheidsorgfasiliteite behaal.
WOW! bemagtig gemeenskapslede om gesonder leefstylbesluite te maak om kroniese siektes te voorkom, verminder en beter te beheer.
Die program bevorder gesamentlike leer, aksie en verantwoordelikheid vir beter gesondheid en welstand.
In Hessequa by Riversdal-hospitaal sal dié inisiatief ook in die toekoms 'n verskil maak - dit uit die opkoms van 'n groentetuin.
Dina-Marie Dwyer en haar kollegas by die hospitaal werk hard aan hulle groentetuin op die perseel.
"Slakke en ander peste het al heerlik aan ons groentetjies geeët en die erge hitte het 'n tol op sommige van ons oeste geëis," het Dwyer gesê.
Ten spyte hiervan spandeer sy en ander kollegas baie van hulle vrye tyd by die goentetuin wat verlede jaar op die been gebring is.
"Ons het in November as deel van die WOW!-inisiatief 'n tuintoring by Fresh Life Produce gekry. Dit is baie effektief, omdat dit min spasie opneem want plante groei in houers bo-op mekaar. Dit benodig ook nie baie water nie. In hierdie tuin het ons soetrissies, rissies, spinasie, blaarslaai, tamaties, mint en ander kruie. Die eerste oes was in Desember en ons was baie trots," het Dwyer gesê.
Sy en die span het groot planne met die tuin wat die gemeenskappe van Riversdal ook insluit.
"Ons doel met die tuin is om voedsel te produseer wat ons aan pasiënte kan gee soos ons oeste dit toelaat. Ons langtermyn doel is om sulke tuintorings te kan gee aan persone wat sopkombuise in ons gemeenskap bestuur wat hulle dan kan onderhou en van kan oes om te gebruik in hul voedselvoorbereidings. Ons wil ook graag die gebied rondom die tuin mooi maak sodat personeel sommer net daar kan sit en ontspan wanneer hul 'n blaaskans tussen skofte neem."
Die tuin is vir Dwyer terapie.
"Soos enige projek het ons ook maar uitdagings rondom peste, maar die bevrediging om iets te sien groei maak alles die moeite werd. Ons wil bitter graag twee watertenks kry, want hier gaan soveel reënwater verlore wat ons vir die tuin kan benut."
Wêreldwaterdag was juis op 22 Maart gevier om bewustheid rondom die wêreld se waterkrisis te skep en hoe mens water kan bespaar.
Dwyer bedank vir Louis Gillis en Shaun Scrooby wat die tipe tuin ontwerp het juis vir persone met klein spasies, Joanna Janse van Rensburg van WOW, Danie Cronjé, Chanel Louw, Corné Ferreira, Janine van den Berg, Monica Msindo, Latitia Abrahams, Elna en Koos van Zyl, Loren Swartz, Warren January en Karel Ferland.
Die eerste oes in Desember verlede jaar.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'