Update
RIVERSDAL NUUS - Die intenting van troeteldiere onderskeidelik op Melkhoutfontein en Riverville het die klem opnuut laat val op die onbeheerste aanwas van veral honde in hierdie, maar ook ander woongebiede.
Dr. Pierre du Bruyn het op 20 Julie tussen 08:00 en 12:00 altesaam 31 honde (17 reuns, 16 tewe) by die Melkhoutfontein-gemeenskapsentrum teen hondesiekte ingeënt. Dr. Tina Kaldenberg en haar helpers het Saterdag 27 Julie 21 honde (13 reuns en 8 tewe) by Riverville-stadion behandel.
"Die meeste van die honde was jonger as ses maande en 85% van hulle is nie gesteriliseer nie,"
sê Sandra Lotz, voorsitter van Community Animal Rescue Society (CARS), wat gereeld sulke inentingsdae reël.
"CARS bedank graag die veeartse wat hul Saterdagoggend opgeoffer het om minder gegoede inwoners se diere te help. Ons wil ook dankie sê vir Nicole Bouwer wat vir eetgoed gesorg het, en Spar Stilbaai wat mildelik bygedra het. Ons bedank ook die Riversdal-span en veral vir Annatjie Kruger en Annelize Riekert vir die lekker eetgoed."
Volgens Lotz word wetgewing nie streng genoeg toegepas nie. "Die teel van honde is heeltemal buite beheer. Selfs kinders teel honde, maar wanneer hulle ons nader vir hulp, sê ons hulle moet hul ouers, wat nie verantwoordelikheid aanvaar nie, stuur."
Om die ontploffing in troeteldiergetalle aan te spreek, word 'n vergadering van alle belanghebbendes beplan. Die datum sal binnekort bekend gemaak word.
Kontak Robyn Learmonth, CARS se tesourier, by 028 713 3076 of 082 922 3619 vir meer inligting oor die volgende inentingsdag.
Lees 'n vorige artikel hier: Elke hond kry sy dag
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'