SLANGRIVIER NUUS - Die plaaslike polisie benodig dringend inligting vanaf inwoners van dié dorp nadat daar by die plaaslike River Valley Senior Burger-klubhuis in Onderrivier ingebreek is.
Volgens sers. Imorgene Hendricks, plaaslike polisiewoordvoerder, vermoed hulle daar is tussen Woensdag 14 Junie en Dinsdag 20 Junie by die klubhuis ingebreek en verskeie items gesteel.
Onder die gesteelde items is twee gesogte trofeë, twee 5 kg-pakke hoender, twee pakke wors asook ander kruideniersware met 'n geraamde waarde van bykans R3 500.
Hendricks sê 'n klublid, wat die inbraak by die polisie aangemeld het, sê toe hulle die perseel op 14 Junie verlaat het, het hulle seker gemaak hulle sluit die deur en dat al die vensters toegemaak is.
Met hul aankoms by die klub op Dinsdag 20 Junie het hulle opgelet dat die venster aan die agterkant oop was en dat verskeie items vermis word.
Enigiemand met inligting oor die inbraak wat tot die arrestasie en skuldigbevinding van die inbrekers kan lei, word versoek om Hendricks by 079 893 9930 of ao. Reon Grundlingh, die ondersoekbeampte, óf die dienssentrum by 028 722 8201/2 te skakel.
Alle inligting sal vertroulik hanteer word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’