ALBERTINIA NUUS - Huppelland-kleuterskool spog sedert begin Februarie met 'n spiksplinternuwe voorkoms.
Dié kleuterskool het sy deure in September 1986 oopgemaak, maar deur die jare het die nodige onderhoudswerk agterweë geraak en het die gebou dringende aandag nodig gehad.
Verlede jaar het die kleuterskool in Junie 'n fondsinsameling gehou met Woes en Wicus van der Merwe as geleentheidskunstenaar en van daardie geld is toe gebruik om in Desember 2022 die nodige opknapwerk te doen.
En vroeg in Februarie kon die kleuterskool met 'n nuwe kleurvolle voorkoms spog.
Irma Kemp, eienaar van Huppelland, vertel dat hulle die skool binne en buite geverf het, krake reggemaak en ook die nat mure behandel het. Die badkamer is ook vergroot en nuut geteël en 'n nuwe naambord is aangebring. "Van die materiaal en verf is geskenk, maar die ander materiaal moes ons self aankoop."
Huppelland-kleuterskool spog weer met 'n nuwe, helderkleurige voorkoms. Foto's: Mariska Visagie
Weldoeners wat gehelp en ook toebehore geskenk het, is as volg:
- SSK Albertinia, wat verf geskenk het. Die res is by hulle gekoop.
- Eric Petersen Bouers, wat ook verf geskenk het.
- Waldrich by 3@1 Riversdal, wat die een buite naambord geskenk het.
- Mias, Jaco en Tian Kemp vir die badkamer se oordoen en teëlwerk.
- Pieter Oosthuizen van Langeberg Konstruksie, wat 'n oud-Huppellander is, het al die verf en herstelwerk gratis gedoen.
"Ons by Huppelland is hom 'n groot dankie verskuldig," sê Irma. "Maar ook 'n groot dankie aan my steunpilare, my man, Mias, en my twee kinders. Hulle is maar altyd my go-to mense as ek iets gedoen wil hê by die skool, so om net te noem dat hulle die badkamer gedoen het, is eintlik so min, want hulle het baie meer as dit gedoen.
"Ek en Shirlene het in ons Desember-vakansie self die blommetjies op die mure geverf, die goedjies in die boom en al die versierings buite gedoen. Die laaste afrondingswerk het ons in Februarie voltooi. En kyk nou hoe fraai lyk die gebou. Die kinders lewe in kleur, jy leer ook in kleur. Alles is mooi en helder opgekikker."
Die skoolgebou is mooi verfraai en mense is sommer weer lus om die skool te besoek.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'