RIVERSDAL - Die Riversdal- en Oakdale-gemeenskap het op 29 Julie met skok en hartseer verneem van die afsterwe van Fanie Smit ná 'n kort siekbed.
Die oud-skoolhoof van Hoër Landbouskool Oakdale, André Latsky, het 'n huldeblyk aan Fanie Smit, oud-onderwyser, op die Oakdale Facebook-blad geplaas. Ons plaas dit met sy vriendelike vergunning.
Fanie, of mnr. Fanie, soos hy aan meeste bekend was, was geliefd in Oakdale en die landbougemeenskap. Hy was voor die aanvang van sy onderwysloopbaan van 34 jaar aan Oakdale, verbonde aan Nestlé.
Fanie was 'n onderwysmens in murg en been, met 'n hart vir kinders en mense. Hy was lief vir landbou en ekonomie waarin hy homself in die klaskamer uitgeleef het. Afgesien van sy onderrigvakke, was hy 'n "onderwyser van die lewe" wat vir ons seuns lewensvaardighede, wyshede en mensvaardighede geleer het.
Hy was 'n gesels - en storiemens wat in alle omstandighede kon aanpas en inpas. Sy lewenservaring en wydbelese kennis, is deur oud-Oakdalers met liefde en respek bejeën.
Hy was lief vir Oakdale en al sy skoliere.
Fanie was 'n lojale en uiters gerespekteerde lid van die personeel wat ook as departementshoof waardevolle bydraes tot landbou-onderrig gelewer het. Sy uiters positiewe ingesteldheid en sterk sin vir humor het hom as legende onderskei.
Fanie se skakeling en kontak met tersiêre opleidingsinstansies was vele skoolverlaters van hulp met toelating en die verkryging van finansiële beurse.
Sy gebalanseerde uitkyk op die lewe het daartoe bygedra dat hy lief was vir sport, kultuur, skilder en ook die versameling van miniatuur motortjies.
Hy was 'n gesinsman by uitstek en was ook 'n baie liefdevolle en trotse oupa van twee kleinkinders, Lisa en Neil.
Alhoewel hy oor 'n tydperk van 34 jaar 'n "pa" van duisende seuns was, het hy elke dag sy diepe afhanklikheid van sy Hemelse Vader op tasbare wyse uitgeleef.
Hy laat sy vrou Evelyn, sy dogter René en haar man Kobus Smit, asook sy seun Rossouw agter. Hoër Landbouskool Oakdale groet 'n geliefde oudonderwyser, kollega, vriend en legende. Die stories wat Fanie Smit vertel het, asook die karakter van trots, geloof en liefde deur hom gevestig, sal vir altyd bly voortleef.
Gedenkdiens
Sy gedenkdiens vind Saterdag 5 Augustus om 11:00 by die NG Kerk Riversdal-Wes plaas.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’