Update
RIVERSDAL NUUS - 'n Groep mense, onder leiding van Candice Bouwer, het op 4 en 5 Februarie buite Riversdal-skougronde teen die gebruik van diere in sirkusse geprotesteer.
Meeste inwoners was opgewonde om te hoor dat McLaren sirkus die dorp gaan besoek. 'n Paar dae voor die sirkustent opgeslaan is, is 'n boodskap op sosiale media wat mense motiveer om nie die sirkus te ondersteun nie, versprei. 'n Klein groepie uit die gemeenskap het opgedaag om hul ondersteuning te wys.
Bouwer het gesê: "Ons is nie teen die sirkus nie, net teen die gebruik van diere in die sirkus."
Betogers, sowel as verteenwoordigers en die stigter van Community Animal Rescue Society (CARS), Sandra Lotz, het hul ontevredenheid gewys deur swart hemde te dra en plakkate omhoog te hou. Van die plakkate het gelees: 'Animals were not born to perform' en 'Diere hoort nie in die sirkus nie.'
'n Paar mense het gevra waarom daar dan nooit by 'n skou betoog word nie, omdat diere in die bloedige hitte rondgelei word, vir lank in die son en klein hokke staan, oor ver afstande vervoer word en baie van hulle met swepe, stokke en selfs die vuis geslaan sodat die dier moet reageer.
Hoewel die betogers verbygangers probeer oortuig het om nie die sirkus te ondersteun nie, was elke vertoning goed bygewoon. Dit was duidelik dat die gehoor, veral die kinders die verskeidenheid toertjies geniet het. "Dit is dalk die enigste geleentheid wat my kinders sal kry om leeus en kamele te sien," het 'n sirkus aanhanger gesê.
David McLaren wat McLaren sirkus op die ouderdom van 21 begin het, sê dat hy baie lief vir al sy sirkusdiere is.
"Waarom is daar nog nooit 'n saak van dieremishandeling teen my gewen nie? Baie mense dink ons gebruik geweld of mishandel die diere om hulle te kry om toertjies te doen. Ek gebruik positiewe beloning wanneer ek die diere oplei. Wanneer die kameel byvoorbeeld gaan lê wanneer hy die opdrag kry, word hy beloon. Die diere word gereeld deur 'n veearts nagegaan," het hy gesê.
Al die diere wat opgetree het, het rustig en goed versorg voorgekom. Die leeus het geen letsels as gevolg van geweld of mishandeling op hul pels gehad nie en het op elke opdrag gereageer sonder om geslaan te word.
Bouwer en haar span was ook op Heidelberg en Swellendam waarheen die sirkus getoer het.
"Ons is net 'n paar mense, maar hopelik sal mense mettertyd nie meer organisasies ondersteun wat van diere gebruik maak nie. Daar is reg oor die wêreld lande wat die gebruik van diere in sirkusse verban. My hoop is dat ons almal in die toekoms hulle voorbeeld sal volg."
Hulle probeer gemeenskappe bewus maak waarom dit nie reg is om diere in sirkusse te gebruik nie:
- Hierdie diere lewe nie in natuurlike omstandighede nie, en moet soms vir ure in die hitte, in hokke vervoer word.
- Gegewe die keuse, sal geen dier kies om 'n onnatuurlike lewe te leef, ongeag die vriendelikheid of die behandeling nie.
- Geen dier sal kies om niks van hul natuurlike gedrag toegelaat te word nie.
- 'n Natuurlike omgewing kan nie in 'n sirkus herskep word nie.
Vir meer inligting besoek Beauty without Cruelty se web tuiste by www.bwcsa.co.za.
Om te sien watter diere in die sirkus gebruik word en vir meer inligting oor die McLaren sirkus besoek hul webtuiste by www.mclarencircus.co.za.
Lees 'n vorige artikel hier: Mense betoog teen sirkusdiere
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'