STILBAAI NUUS - Die nuwe behuisingsprojek in Melkhoutfontein bly maar om die verkeerde redes in die nuus.
Hessequa-munisipaliteit, met die ondersteuning van Hessequa-wetstoepassing en die plaaslike polisie, het blitsig gereageer en inwoners van Melkhoutfontein Dinsdag 26 September uitgesit uit die nuwe huise wat hulle die vorige dag beset het.
Drie huisgesinne het uit pure radeloosheid, omdat hulle al jare wag vir huise, besluit genoeg is genoeg. Hulle het hulle besittings opgepak en drie leë huise in die nuwe projek beset.
Hul vreugde was egter van korte duur, want Dinsdagoggend 26 September was die behuisingsafdeling met die wetstoepassers en die polisie op hulle voorstoepe. Buite het 'n groot munisipale trok met werkers gewag om die besittings op te laai en die gesinne weer na hulle ou tuistes terug te neem.
Hulle het aanvanklik weerstand gebied, maar later besef dat wat hulle doen teen die wet is.
Rayno Abrahams, een van die besetters, het dokumente by hom gehad wat volgens hom die bewys is dat die regering 'n huis aan hom toegeken het. Die huis is klaarblyklik aan iemand anders gegee. Terwyl sy meubels gelaai is, het sy klein kindertjies al om die huis gespeel, salig onbewus van die drama wat hom daar afspeel.
Justin Coetzee, nog 'n besetter, sê dat hy ook al goedgekeur is vir 'n huis, maar hy wag al ses jaar en genoeg is genoeg. Mense om hom kry huise, selfs ongetroudes, maar hy moet maar bly waar hy is. Sy kinders bly siek, want hy kan nie gou genoeg al die lekplekke in sy dak toestop nie.
Met die Forum se besoek aan die gebied was die elektriese kontrakteur nog besig met elektrisiteit aansluitings na van die huise en klaarblyklik is dit al oponthoud met die oorhandiging van sleutels vir die huise wat nog leeg staan.
Vir die man wat wag vir 'n huis is dit bitter moeilik om te verstaan waarom soveel huise nog leeg staan etlike maande nadat die bouers al onttrek het en dit lei tot frustrasie en in sommige gevalle tot onwettige optrede soos huisbesettings.
Gereelde kommunikasie is dalk die oplossing.
Albert de Klerk, munisipale bestuurder van Hessequa-munisipaliteit, het op die Forum se navraag as volg gereageer:
Die drie gesinne betrokke is Samantha en Ryno Abrahams, subsidie goedkeuring vir Erf 1856 op 24 Mei 2022, Lucille en Stefaans Coetzee goedgekeur vir Erf 1733 op 29 September 2022, Beronise en André Riddles goedkeuring vir Erf 1865 op 10 Augustus 2022.
Op 28 Februarie is die volgende besluit deur die Raad goedgekeur.
- Dat die komitee kennis neem van die inhoud van die verslag met besonderhede van die goedgekeurde begunstigdes van die Melkhoutfontein-behuisingsprojek.
- Dat die komitee kennis neem dat verifikasie van alle goedgekeurde deelnemers se finansiële posisie sal plaasvind ten einde te verseker dat aan die departement van menslike nedersettings se vereistes en voorskrifte voldoen word."
Die oorhandiging van wonings geskied in terme van ouderdom en installering van elektrisiteit.
Die inkomste verifiëring tot die ouderdomme van 37 jaar oud was onlangs gedoen en aan die raad voorgelê en gaan 36 goedgekeurde begunstigdes op 29 September 2023 ontvangs van hul nuwe wonings neem.
Die drie gesinne betrokke is almal jonger as die 37 jaar ouderdomsgroep.
Dit word beoog om die oorblywende 49 wonings teen einde Oktober 2023 te oorhandig aangesien die elektrifisering van wonings teen einde Oktober deur MDL gefinaliseer sal wees.
Daar was 'n groot polisieteenwoordigheid toe Hessequa-munisipaliteit Maandag onwettige huisbesetters in die nuwe beshuisingsprojek in Melkhoutfontein uitgesit het.
Justin Coetzee (regs) help om sy meubels op die munisipale vragmotor te laai.
Rayno en Samantha Abrahams se yskas op pad trok toe.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’