Update
HEIDELBERG NUUS - Is daar 'n verband tussen die omgewing waar jy woon en jou gemoedstoestand?
Navorsing deur die Universiteit van Pennsylvania in die VSA het bewys dat die omgewing waar mense woon 'n uitwerking op hul gemoed het. Hulle het inwoners van sekere buurte in die stad gevra om vraelyste in te vul oor hul gemoedstoestand, wat depressie, hopeloosheid, hulpeloosheid en rusteloosheid ingesluit het.
Toe het hulle verwaarloosde erwe in die buurt netjies gemaak deur die rommel te verwyder en die lang gras te sny. Op sommige erwe het hulle selfs bome laat plant en dit met 'n houtheining verfraai.
Later het hulle die inwoners weer gevra om die vraelyste in te vul. Volgens die navorsing was die resultate die duidelikste in arm woonbuurte, waar gevoelens van terneergedruktheid van inwoners wat naby die verfraaide erwe woon, 41% minder was. Hulle het ook bevind dat wapengeweld naby erwe wat netjies gemaak is, met 29% afgeneem het.
Die plaaslike inwoners se algehele geestesgesondheid en veiligheid is dus verbeter deur die erwe met 'n negatiewe omgewingsimpak te verfraai.
Dit laat 'n mens wonder of die halfklaar huis van gruwels en 'n afgebrande huis van hartseer in Joe Slovo Park in Heidelberg nie dalk verband hou met drie gevalle van selfdood wat vanjaar daar plaasgevind het nie.
Wanneer 'n mens deur die buurt ry, is dit duidelik dat die inwoners trots op hul netjiese huise, tuine en selfs strate is.
Dit is dus te verstane dat die bouvalle vir hulle 'n steen des aanstoots en 'n bron van kommer kan wees.
In die geval van die halfvoltooide huis is die Hessequa-munisipaliteit besig om die eienaar te probeer oorreed om die huis klaar te bou of te sloop.
Maar miskien is dit tyd dat die inwoners 'n groot skoonmaakaksie loods en alles wat nie met hul intrinsieke trots strook nie, verwyder of verfraai.
Kan die omgewing waar jy woon of waarin jy jouself bevind jou gemoedstoestand beïnvloed? Foto: Wilma Adamson
Bron: 'Invloed van groen areas en die natuur op geestesgesondheid' Julie 22, 2018 Psigotydskrif (http://www.psigotydskrif.co.za)
Lees 'n vorige artikel hier: Verband tussen omgewing en gemoed
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'