GYSMANSHOEK NUUS - Ongeveer 15 hektaar aangeplante Proteas op die plaas Kanetberg, asook 'n ingerigte huis wat as gastehuis bemark sou word, is in die Gysmanshoek/Grootvadersbosbrand wat sedert 8 Februarie woed, vernietig.
"Ons is op die noordelike kant van die Gysmanshoekpas. Die Cynaroides (King Protea) is alles vir die uitvoermark gekweek as intensiewe boerdery, dus met besproeiing, op spuitprogram en gereelde kunsmis toediening," vertel Erica Taljaard van die plaas.
Volgens haar kan hulle nie nou al die skade bepaal nie, omdat hulle nog die onmiddellike skade, sowel as die langtermyn vervanging van die boorde en verlies aan inkomste moet bepaal tot verlore boorde weer in produksie kom.
Al hulle berggrond waarop veld-oes gedoen is, het ook gebrand.
"Gelukkig het ons Protea-pakstoor, woonhuis en arbeiders-huise nie deurgeloop nie. Twee helikopters was vir 'n geruime tyd Dinsdag besig met water gooi om die vuur in bedwang te hou, asook nabye bure wat kom help het. Ons eie Unimog-trok is as 'n brandweervoertuig ingerig en so het ons die brand ook heeltyd help bestry."
Die vuur het aan die suidelike kant van die berg ontstaan en baie vinnig na die noordelike hang van die Langeberg versprei, waar 'n paar nabygeleë plase ook gedeeltelik afgebrand is. Op die plaas Kortfontein het een Bonsmara-bees doodgebrand.
Die departement van bosbou, visserye en die omgewing se brandbestryders het die Tuinroete-distriksmunisipaliteit en CapeNature bygestaan met pogings om die brand te bestry.
Die Swellendam-, Riversdal-, Albertinia- en Melkhoutfonteinspanne het onverpoosd saam met die munisipaliteit en CapeNature se brandbestryders gewerk.
"Teen Saterdag was vordering gemaak om die brand te onderdruk, maar weens 'n sterk wind het 'n opvlam plaasgevind. Die twee besoekende spanne van die Oos-Kaap en Mpumalanga wat in die Suid-Kaap gesetel is, het handig te pas gekom toe hulle uitgestuur is om die brand oornag saam met twee spanne van Albertinia te bestry," het Limakatso Khalianyane, provinsiale kommunikasiebeampte van Working on Fire, Wes-Kaap gesê.
"Hulle het gedemobiliseer om te gaan rus en die Riversdal-span neem oor vir die dagskof omdat verskeie afdelings van hierdie vuur aanhou brand. Brandbane is gebou om plase en eiendomme in die gebied te beskerm."
Tot op 15 Februarie is ongeveer 3 600 hektaar plantegroei vernietig. Die brand is uiteindelik onder beheer na ongeveer 9,5mm reën in die gebied geval het. Dit sal egter steeds gemoniteer word.
Spanne van Working on Fire hard besig om die brand te probeer stuit.
'Ons bring jou die nuutste Gysmanshoek, Hessequa nuus'