Die hospitaal het drie interne assesserings gehad en die eksterne evaluering is op 14 en 15 Februarie 2012 gedoen. Die MBVHI is 'n wêreldwye veldtog wat in1992 van stapel gestuur is deur die Wêreldgesondheidsorga-nisasie (WGO) en die Verenigde Nasies se Kinderfonds (Unicef). Dit is gegrond op die Tien Stappe tot Suksesvolle Borsvoeding. In Suid-Afrika is die MBVHI in 1994 van stapel gestuur. Negen-tien hospitale in die Wes-Kaap het reeds hierdie akkreditasie verwerf, waarvan sewentien provinsiale hospitale is.
Die Wes-Kaapse Minister van Gesondheid, Theuns Botha, het gesê hy is baie trots dat sy eie hospitaal hierdie internasionale status verwerf het. "Dit is welbekend dat die akkreditasie net deur harde werk en toewyding verwerf word. Borsvoeding en die algemene gesondheid van moeders en kinders vorm 'n belangrike deel van ons regering se doelwitte vir gesondheid. Hoe sterker die immuniteit van ons vroue en kinders, hoe gesonder is ons mense, en hoe beter is hulle daartoe in staat om geleenthede aan te gryp."
Die MBVHI ondersteun die reg van die moeder om te kies hoe sy haar baba wil voed en versorg. Gesondheidspersoneel het die verantwoordelikheid om die beste praktyke aan te moedig en om te verseker dat ouers toepaslike, akkurate en onbevoor-oordeelde inligting ontvang om hulle in staat te stel om ingeligte keuses te maak.
Riversdal hospitaal is 'n vlak 1 hospitaal en bedien Heidelberg, Albertinia, Stilbaai, Melkhoutfontein, die groter Riversdal en die omliggende plaasgemeenskappe. Riversdal hospitaal funksioneer as, en lewer 'n ondersteunende diens aan die primêre gesondheidsorg klinieke en verskaf verskeie spesialis-dienste (deur middel van uitreike). Die kraamafdeling bestaan uit twee kraambeddens- drie voorgeboorte- beddens, agt postnatale beddens en kan ook drie kangaroesorg babas akkommodeer.
Die voorbereidingsproses vir akkreditasie het aktief in 2007 begin en alle kliniese en nie-kliniese personeel het vanaf 2009 die nodige opleiding ontvang.
Tans hanteer Riversdal Hospitaal gemiddeld 45 bevallings per maand. Om hierdie status te kon verwerf het dus 'n gevestigde en suksesvolle borsvoedingsprogram geverg.
In die Wes-Kaap provinsie is kindergesondheid een van die agt algemene doelwitte wat die Departement van Gesondheid aangewys het as prioriteit. Dit is ook 'n maatstaf om die gehalte van sorg te meet.
Alle fasiliteite wat dienste vir moeders en babas aanbied word uitgedaag om MBVHI-akkreditasie te bekom.
Die akkreditering vereis 'n begrip van hoëgehalte sorg aan moeders en pasgebore babas, en 'n verbintenis tot die erkende voordele van borsvoeding. Die akkreditasie is tot voordeel van die hele gemeenskap, ook in die langtermyn, en is 'n uitstekende voorbeeld dat wanneer die gemeenskap saam met die departement van gesondheid werk ons beter tesame is.

Personeel van die Riversdal Hospitaal kraamsaal.