Update
HEIDELBERG NUUS - Groot opgewondenheid het op Vrydag 1 Desember by die skool geheers met die afskop van hul eerste Somerskool wat oor drie dae gestrek het.
Die idee is gebore deur 'n paar ouers wat die probleem raakgesien het van skole wat nie meer tot die laaste dag van die skoolkalender die kinders kan akkommodeer nie as gevolg van toenemende administratiewe druk.
Dit skep egter by baie ouers 'n probleem met kinders wat vir 'n week of meer nie toesig het terwyl hulle nog moet werk nie.
"Dit skep ook by kinders die idee dat reëls daar is om te breek en dat 'n mens maar kan ophou voor die einde, waar ons inteendeel ons kinders elke dag moet leer dat sukses juis in volharding lê tot die einde toe," sê die skoolhoof, Johan Eigelaar.
Koppe is bymekaargesit oor hoe om die probleem die hoof te bied en die somerskool is gebore.
Die projek het gepoog om die leerders aktief en kreatief besig te hou met behulp van bekwame, begaafde en bereidwillige Hattie-ouers, oud-Hatties en mense met 'n hart vir Hattieland.
Die leerders het oor die drie dae die geleentheid gehad om te kies tussen verskillende aktiwiteite waaraan hul wou deelneem.
Dit het die volgende ingesluit: netbal, rugby, krieket, tennis, spiesgooi, gewigstoot, diskus, verspring, hoogspring, toutrek, hindernisbaan, spele, drama, landsdiens, bak en brou, handwerk, kunsuitstappie, Heidelberg historiese roete uitstappie, biblioteekuitstappie en voëlidentifiseringsuitstappie.
Van die persone wat gehelp het, sluit in BG Uys, Louise Kluyts, Springbok spiesgooier JoAné van Dyk en Sybrandt van Dyk (albei oud-Hatties), Henoe Stoffberg, Wim Vorster, Springbok-netbalspeler Lefebre Rademan, Adri van Zyl, Hanlie Uys, LeeAnne Stoffberg, SA skoletoutrekker en oud-Oakdaler Pieter Uys, Johan Joubert, Pierre van der Berg, Michelle Moodie en Pieter Steenkamp.
"'n Hartlike dank aan elkeen wat hierdie droom help bewaarheid het en 'n geseënde Kerstyd word u toegewens."
Lees 'n vorige artikel: Somerskool sorg vir pret
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'