RIVERSDAL NUUS - Hoër Landbouskool Oakdale se gewilde jaarlikse skuurdans by die 4 Brothers-aartappelstoor buite George was vanjaar weer 'n bul van 'n partytjie met 631 jolige gaste wat aan 'n reuse-os gesmul het.
Die saal was met feestelike liggies wat uit die dak hang getooi.
Rubbervylsels op die vloer het gesorg dat die dansvoete flink op maat van die aansteeklike musiek kon gly en DJ Morné het gesorg dat die voete heeltyd gejeuk het.
Buite die stoor het osbraaier Jannie Meyer en verskeie ouers, wat as voorsnyers behulpsaam was, gesorg dat die tollie van 230 kg gebraai word om die hongerpyne te besweer. Die spanpoging het gesorg dat die os, wat deur Hermann en Diana Pietersen geskenk is, betyds gaar en geurig voorgesit kon word.
Die twee hooforganiseerders van die dans was Eone de Villiers en Inneke Goosen.
Daar was ook 'n dekorspan, kosspan, kroegspan en spanne wat die saal op- en afgeslaan het en elektriese bystand verleen het; ander take is deur vrywilligers verrig. Die meeste kos wat voorberei is, was skenkings. Fotograaf Eric Waterson het gesorg dat die feestelikhede op sy kamera verewig word.
Osbraaier Jannie Meyer, links, saam met Diana en Hermann Pietersen wat die karkas geskenk het.
Die saal het vanjaar weer treffend vertoon met die feestelike liggies en keurig gedekte tafels.
Die Van Greunen-broers het vanjaar weer 'n reuserol in die suksesvolle skuurdans gespeel deur onder andere die lokaal beskikbaar te stel en talle ander bydraes te maak. Van links is Nelius, Bennie, Johan en Christie van Greunen. Foto's: Eric Waterson
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'