HESSEQUA NUUS - Die plaaslike munisipaliteit wend deurlopend pogings aan om groen energie inisiatiewe in die gemeenskap te bewerkstellig.
Die munisipaliteit het 'n eerste plek in die Wes-Kaapse groenste munisipaliteit kompetisie gedurende 2015 en 2016 verower en is dit, volgens 'n persverklaring, 'n bewys van die raad se verbintenis om die omgewing te beskerm en te bewaar.
'n Konsep, Small Scale Embedded Generation-beleid is opgestel met die doel om alle belangstellende verbruikers die keuse te bied om gebruik te maak van alternatiewe energie soos wind- en sonkrag om elektrisiteit op te wek.
Verbruikers sal die keuse hê om elektrisiteit vir hul eie gebruik op te wek, of die surplus opwekking direk aan die munisipaliteit te verkoop. Die konsepbeleid is op 6 Maart met die raad bespreek en sal eersdaags 'n openbare deelname proses volg vir insae en uitklarings daaromtrent.
Verskeie vereistes en wetgewing is aan die raamwerk gekoppel om die SSEG installasie te implementeer.
Vir verdere inligting besoek die munisipale webwerf www.hessequa.gov.za of kontak Justin Lesch by 028 713 8000.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'