HESSEQUA NUUS - Skole in die Hessequa-streek het met die Suid-Kaap Forum se redakteur, Wilma Adamson, senior joernalis, Christo Vermaak en korrespondente, Clive Pretorius en Mariska Visagie oor hulle uitdagings, onder meer die invordering van skoolfonds te midde die Covid-19-pandemie, gesels.
• Foto's, waar maskers nie deur hoofde gedra word nie, is voor die verpligte dra daarvan geneem en deur die skole self verskaf of andersins op versoek vir die neem van die foto, verwyder.
Dennis Karelse, Hoërskool Albertinia:
"Volgens Artikel 3 van die Skolewet is kinders verplig om skool by te woon. Hulle het wel die keuse om nie hul kinders skool toe te stuur nie, maar kan vir privaatonderrig by die huis registreer.
"Ouers vind dit moeilik om skoolgeld te betaal omdat hulle voel dat die skool eers later oopmaak en dat hul kinders minder onderrig gaan ontvang. Skoolfonds is egter 'n statutere verpligting ingevolge die Suid-Afrikaanse Skolewet, nr 84 van 1996 (soos gewysig), wat jaarliks vooruitbetaalbaar is, aan die begin van elke skooljaar. Sodanige betaling is verpligtend, tensy ouers vrystelling of gedeeltelike vrystelling daarvan toegestaan is.
Hoërskool Albertinia is vanaf 1 Januarie 2020 'n skoolgeldvrye (No-Fee School) skool.
"Covid-19 bied talle nuwe uitdagings vir skole, onderwysers en leerders. Ouers worstel met die besluit of hulle hul kind moet skool toe stuur of tuis onderrig. Skole moet aan innoverende maniere dink om seker te maak dat onderrig daagliks gaan plaasvind."
Louis Lategan, Laerskool Volschenk, Riversdal:
"Laerskool Volschenk lê die klem daarop dat skole die nodige dokumentasie vir glyskaal-aansoeke ernstig moet bemark. Ek, my personeel en beheerraad doen moeite om ouers wat sukkel om tydens die Covid-19-pandemie skoolfonds te betaal, in te lig oor die aansoekvorms wat hulle kan invul vir skoolfondsverligting.
"Die skool self besluit nie oor wat die verligting sal wees nie, maar wel die departement van onderwys. Dit is essensieël vir ouers wat finansieël noustrop trek weens werksverliese en salarisverminderings.
"Skoolonderrig lê my baie na aan die hart en ek en my personeel gaan sover om ouers te adviseer met die invul van die vorms."
Louis Lategan
Piet de Villiers, Hoërskool Langenhoven, Riversdal:
"Die beheerliggaam, ekself en personeel van Hoërskool Langenhoven doen ons aanlyn-advertensie wat lees: 'Hoërskool Langenhoven is 'n skool waar elkeen iemand is', gestand deur met begrip elke aansoek vir skoolfondsvermindering met groot omsigtigheid te hanteer.
Ons probeer elkeen help en het begrip vir die feit dat ouers hul werk verloor het of deur salarisinperkings gaan.
"Ek nooi ouers om met die skool se bestuur te kom praat oor hul behoeftes."
Piet de Villiers
Nicky Deetlefs, Laerskool Bertie Barnard, Stilbaai:
"Ons het 'n definitiewe afname in skoolfonds-betalings, maar van ons leerders se ouers wat nie skoolfonds kan bybring nie, het reëlings met ons kom tref. Ons probeer hulle so ver moontlik tegemoet kom, want ons verstaan dit is moeilike tye, ook vir die skool. Hier is slegs 'n klein groepie wat nog nie reëlings kom tref het nie, maar dit is gelukkig in die minderheid. Ek vermoed dit gaan maar oor trots of die mense is skaam.
"Met die inperking is gewone fondsinsamelings nie moontlik nie, wat 'n groot inkomste vir die skool beteken het. Ons jaarlikse Legends-naweek met die oud-Springbokke, die Beesloop, Kultuurweek en vele sportgeleenthede is van die baan af en dit is moeilik om onder die omstandighede aan ander maniere te dink om geld in te samel. Ons was gelukkig dat ons aan die einde van verlede jaar al ons kaartjies vir die Beesloop verkoop het, maar voor die geleentheid self kon plaasvind het Covid-19 en die inperking ons getref. Ons kon darem 'n virtuele beesloop aanbied, maar dit is nie dieselfde as die ware Jakob nie.
"Dit is nie maklik om kop bo water te hou nie, want ons het ook baie verpligtinge wat nagekom moet word."
Nicky Deetlefs
Vivian Prins, Kairos Senior Sekondêre skool, Heidelberg:
"Ons is nog die enigste quintel 4 skool in die distrik waar skoolfonds nog betaal moet word. Ons pleidooie om "geen skoolfonds-skool"-status te verkry val op dowe ore. Ons het verlede jaar maar iets soos 30% skoolfonds ingekry. Die pandemie het beslis 'n negatiewe impak op die skool en ek vrees dat ons nie ons verpligtinge einde Februarie sal kan nakom nie.
Ek is nie seker wat die probleem is dat ons status nie kan verander nie, maar ek hoop van harte dat die departement dit wel vanjaar sal goedkeur."
Vivian Prins (masker afgehaal vir neem van foto). Foto: Clive Pretorius
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'