RIVERSDAL NUUS - Dit is tyd vir Kwêla se Dorp van die Jaar (DVDJ)-kompetisie en inwoners van Hessequa word aangemoedig om in hul hordes te stem.
Die kompetisie word in samewerking met Lottoland aangebied en die wendorp kry R1 miljoen wat hulle kan gebruik om hul dorp te verbeter. Die wenner kry ook 'n 45 sekonde gratis advertensie op KykNET ter waarde van R1 miljoen om die dorp te promoveer.
Hessequa is in vele opsigte 'n unieke toeristebestemming en bied ongelooflike ervarings waaronder die majestueuse Gouritz- en Goukou- en Breederivier, Riversdal se Sleeping Beauty-berg, die jaarlikse walvismigrasie, Albertinia se Fluisterboom, Stilbaai se palings en ook die Groot Vyf.
Hoe werk dit?
Stuur die dorp se naam, Riversdal, Stilbaai of Heidelberg, per SMS na 33157. (SMS’e kos R1,50).
Inskrywings het reeds Sondag 3 Maart om 19:00 geopen en sluit Vrydag 15 Maart om 12:00. Jy kan soveel dorpies benoem soveel keer as wat jy wil (net een dorpsnaam per SMS, en soveel SMS’e as jy wil in hierdie nominasie ronde).
Uit elke streek sal die drie dorpe met die meeste benoemings deurdring na die halfeindronde (op 14 April, 21 April en 28 April). Hier kry die publiek ’n geleentheid om vir hul gunstelingdorp uit die drie semi-finaliste uit elke streek te stem.
Die ronde laat net 30 SMS’e per nommer toe. Die dorp met die meeste stemme sal die kompetisie-streek as hul finalis-dorp in die eindronde verteenwoordig.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’