RIVERSDAL NUUS - Jy kon hulle op 'n afstand uitken. Breëbors met nog breër glimlagte. Trotse ouers, oupas en oumas, en natuurlik skoolhoofde en onderwysers wie se bekers van geluk nog vir lank gaan oorloop.
Ná die bekendmaking van die 2022-matriekuitslae het die vreugdevure in Hessequa hoog gebrand nadat matrieks van plaaslike hoërskole weereens vir blink prestasies gesorg het.
Drie skole uit Hessequa het 'n slaagkoers van 100% behaal: Hoër Landbouskool Oakdale en Hoërskool Langenhoven, albei van Riversdal, asook Hoërskool Heidelberg. Eweneens net so puik was Kairos Senior Sekondêr wat dié keer die prestasie net-net gemis het met 'n slaagsyfer van 98,6%.
Dit is wel 'n verbetering van 4,3% op die vorige jaar se slaagpersentasie. Net een van sy 73 matrikulante het dit nie gemaak nie.
Veral by Hoërskool Langenhoven was daar groot opgewondenheid nadat al sy matrieks 100% van al hul vakke geslaag het. 'n Woordvoerder van die skool sê hulle kan nie onthou of dit al vantevore gebeur het dat sy leerders al hul vakke deurkom nie.
Hoërskool Albertinia (79,2%) en Gerrit du Plessis in Riversdal (77,9%) het albei verdienstelike prestasies behaal onder moeilike omstandighede.
In die woorde van Patrick Witbooi, skoolhoof van Gerrit du Plessis, is dit nou wel nie 'n 100%-slaagsyfer nie, maar tog 'n prestasie waarop die matrieks van beide skole en hul ouers trots kan wees.
"Omstandighede verskil van skool tot skool en die talle uitdagings wat sommige skole te bowe moet kom, plaas hul slaagsyfer in groter perspektief. Ek is verheug en baie trots op my matrieks."
Willem du Buisson, Oakdale se skoolhoof, sê hulle is baie trots op hul seuns se pragtige uitslae in die nasionale senior sertifikaat-eksamen. "Die seuns moes baie struikelblokke oorkom na die Covid-19-pandemie, maar tog het ons 'n puik 2022 gehad."
Hoërskool Langenhoven het Hessequa se drie toppresteerders opgelewer. Hulle is Rosa van Zyl (93,3% met 9 vakonders-keidings), Madré Davids (89,1% met 8 vakonderskeidings) en Sarise Oosthuizen (88,3% met 8 vakonderskeidings).
Matrieks wat nie suksesvol was nie word daaraan herinner dat hulle aansoek kan doen om aanvullende eksamens te skryf of hul antwoordstelle te laat oormerk.
Oudleerders wat berading benodig, kan ook hul onderskeie skole of die Safe Schools-blitslyn by 0800 45 46 47 kontak.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'