HEIDELBERG NUUS - Hessequa Harmonie word weer van 19 tot 23 September in Heidelberg aangebied met 'n volgepakte program wat enige kieskeurige persoon tevrede sal stel.
Belangstellendes sal kan uitsien na 'n unieke viering van musiek, kuns en plaaslike talent wat hom tydens Erfenismaand in Heidelberg gaan afspeel.
Soos gebruiklik is daar weer musiek uit die boonste rakke, kunstentoonstellings, boekbesprekings, toneelkuns, 'n kosdemonstrasie, heerlike wyne om te proe en selfs kunswerksessies beloof om 'n unieke viering van musiek, kuns en plaaslike talent gedurende Erfenismaand te wees.
Hessequa Harmonie is 'n fokusfees met klassieke musiek as vertrekpunt en 'n fyn uitgesoekte program van woordkuns en teaterervaringe om kuns van hoogstaande gehalte toeganklik te maak op die platteland.
Niël Rademan, 'n trotse boorling van Heidelberg en die fees se uitvoerende hoof, sê hulle is opgewonde om groot name van die land se musiek-, teater- en boekkringe by vanjaar se fees te verwelkom en die pragtige dorp en omgewing as verhoog te gebruik om mense deur middel van musiek en kuns saam te bring en te inspireer.
Rademan doen moeite om mense met historiese bande na Heidelberg te bring om hulle talent hier te deel. So tree die talentvolle jong pianis, Gerhard Joubert, wat onlangs die Unisa-klavierkompetisie gewen het, vanjaar in Heidelberg se stadsaal op, digby waar sy oupagrootjie destyds sy kantoor as stadsklerk gehad het.
Gerhard se oupa, 'n afgetrede professor in toegepaste wiskunde, Gerhard Geldenhuys en ouma Anneline het albei in Heidelberg grootgeword, skoolgegaan en Unisa-klaviereksamens afgelê.
Elsabé Daneel, wat sedert die begin van die fees betrokke is, keer ook elke jaar terug na die dorp waar haar oorgrootjie ds. Daneel die eerste leraar van die NG Kerk was.
Ander oud-Heidelbergers op vanjaar se program is Ilzebeth Uys, wat as voordragkunstenaar deelneem aan die debuutproduksie Die reuk van reën, Wium van Zyl wat Saterdag 23 September by die Boeke Brekfis praat en natuurlik Niël Rademan self.
Die fees bring nie net ervare en gevierde skrywers en kunstenaars na die Suid-Kaap nie, maar bied ook 'n uitsonderlike geleentheid om plaaslike talent te ontgin en ten toon te stel.
Met die ondersteuning van onder andere die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport en die Hessequa-munisipaliteit, word daar geleenthede geskep waar inwoners van die streek kan deelneem aan kunsaktiwiteite en 'n spesiale uitvoering, die ATKV-galakonsert, wat Vrydag 22 September in die NG kerkgebou gehou word.
Betsie Ryke van Rural Arts Network (RAN) gaan tussen Augustus en September werksessies vir kore in die Hessequa-streek aanbied om weer 'n feeskoor uit sangers van die area saam te stel. Hierdie massakoor gaan vanjaar saam met 'n strykorkes van Stellenbosch, orrelis Winand Grundling, pianis Elna van der Merwe, soprane Anina Wasserman, Lynelle Kenned en Zanne Stapelberg, mezzosopraan Minette du Toit-Pearce, baritons Corneil Muller en Niël Rademan die kerkgebou met hemelse klanke vul.
Daar was verlede jaar sowat 'n duisend mense in die NG kerkgebou vir die galakonsert en die organiseerders verwag om hierdie mooi tradisie voort te sit. Plaaslike kore en sanggroepe wat belangstel om deel te neem, word uitgenooi om Betsie te kontak by betsie@ruralarts.co.za.
Daar is ook weer gratis aanbiedinge om kuns en musiek onder kinders te bevorder. RAN se prestige marimba-orkes gaan weer aan die fees deelneem.
'n Marimba Makietie word Vrydag 22 September om 13:00 gratis by Hoërskool Heidelberg aangebied.
Rural Arts Netwerk (RAN ) is 'n NGO wat die kreatiewe kunste bevorder in die plattelandse omgewing van Grabouw en omliggende gemeenskappe. Die organisasie se vennootskap met Hessequa Harmonie strek al oor die afgelope vyf jaar.
"Ons voel geëerd om deel te wees van hierdie fees van hoogstaande gehalte. Dit bied ook vir ons deelnemers 'n platform buite ons gewone omgewing. Ons deelnemers sien jaarlikse uit om besoek af te lê aan Heidelberg en word altyd hartlik ontvang," sê Betsie Ryke.
Die HSQA-kunsroete hou ook uitstallings en werksessie tydens Hessequa Harmonie. 'n Kinderkunskompetisie word tussen Julie en September gehou onder die tema Simfonie. Belangstellendes kan Louise Kluyts kontak by louise@starnationart.co.za.
Werke van kinders uit die streek sal dan gekies word om in Heidelberg se dorpsbiblioteek van Dinsdag 19 September tot Vrydag 22 September ten toon gestel te word.
Né afloop van Saterdag 23 September se Boeke Brekfis met Wium van Zyl gaan daar van 10:00 tot 11:30 koetsritte buite die Doornboom Opstal wees waartydens besoekers van die mooi ou geboue in Fouriestraat kan besigtig. Empower Drumming Academy, 'n nie-winsgewende organisasie wat gratis musieklesse aan kinders bied, gaan ook op die grasperk buite die Doornboom Opstal musiek maak en inwoners en besoekers is welkom om die ritme en energie saam te kom geniet.
"Ons nooi met trots en opgewondenheid almal, van die fynproewers tot jongmense wat nuuskierig is oor kuns en musiek, om na Hessequa Harmonie se program te kyk en waar hulle kan deel raak van hierdie klein fees met die groot hart," sê Rademan.
Besoek hessequaharmonie.co.za vir meer inligting en die volle program.
Kaartjies is aanlyn beskikbaar by webtickets.co.za of kan kontant gekoop word by Karee Tree in Heidelberg.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’