RIVERSDAL NUUS - 'n Dorpslegende en beminde inwoner van Riversdal se stem is vir altyd stil. Johnny Swart, alombekende sakeman van Riversdal het Donderdag 23 Februarie in die ouderdom van 79 jaar gesterf.
Johnny het in Desember 2022 skielik 'n hartaanval gehad waarna hy twee stents gekry het. Op Donderdag 16 Februarie is hy met kanker gediagnoseer en 'n week later is hy oorlede as gevolg van nog 'n hartaanval na 'n “scan” en biopsie in die Blaauwberg Netcare Hospitaal.
Johnny Swart is op 19 Augustus 1943 in Riversdal gebore. Van kleins af het hy by LoAnn’s Slaghuis in Riversdal uitgehelp. Hoewel hy arm groot geword het en altyd vertel hoe hy kaalvoet begin werk het, was daar nooit 'n tekort nie.
In 1958 verlaat hy die skool in st. 7 en begin met sy ambag as blokman by LoAnn’s Slaghuis. Daarna begin hy voltyds werk by LoAnn’s Slaghuis en speel hy ook rugby vir Riversdal.
In 1969 word sy dogter Juanita in Riversdal gebore. In 1972 soek hy groener weivelde en verhuis die gesin na George waar hy begin werk by oom Polly van Rensburg van Polly’s Slaghuis.
Oom Polly is oom Flippie van Rensburg se broer wat die pa is van die bekende Jan van Rensburg van Van Rensburg Foods in George. "As vleis in jou bloed is, bly dit in jou bloed," verduidelik sy seun Anton, eienaar van JC Slagtery.
In 1973 is Anton in George gebore. In die tagtigs verkoop oom Polly die slaghuis aan Helena Pieterse en haar pa, prof. Naas Coertze, waar Johnny dan ook ‘n 25% aandeel bekom het. Hulle verander die naam na Pollys sonder die afkappings "s."
Hier was Johnny ‘n eerlike en lojale blokman en bestuurder tot in 1990 toe hulle die slaghuis verkoop het en hul paaie geskei het. In hierdie tyd was hy ook ‘n direkteur van Fancourt Gardens wat destyds ontwikkel is oorkant die bekende Fancourt.
Hy het ook ‘n tyd saam met prof. Coertze in vandag die bekende ‘Manor House’ in Fancourt gebly.
Op 2 April 1990 open hy die deure van JC Slagtery in dieselfde perseel waarin hy destyds sy ambag verwerf het. Sy personeel het bestaan uit vier, wat homself insluit. Tans is daar nog steeds twee van hierdie personeel, Melinda Pietersen en Coenie Smit, oor.
In 2003 op 60-jarige ouderdom verhuis hy na Bloubergstrand, maar vir ongeveer sewe jaar ry hy nog elke week om te kyk of alles vlot verloop en om Anton en Adrie op hul tone te hou.
Nadat hy die besigheid finaal aan Anton het oorgegee het, het hy dadelik betrokke geraak by die huiseienaarsvereniging van Big Bay Beach Club, veral by die tuine en die sekuriteit. Hier was hy betrokke tot hy in 2022 begin siek raak het.
Betrokkenheid by gemeenskappe
In George het hy sy liefde vir rugby uitgeleef deur elke Saterdag George-rugbyklub te ondersteun. Hy het ook vir George-polisie se snoekerspan gespeel en baie Saterdae ,veral die wanneer die Springbokke vroegoggend gespeel het, het menige speurders en polisiemanne agter die slaghuis kom beesrib braai.
Hy het later baie meer betrokke geraak by George-rugbyklub deur die 3de span se bestuurder te wees en later as addisionele lid en as ondervoorsitter by die klub te dien. In 1993 word hy verkies tot die uitvoerende bestuur van SWD-rugby en word ook verkies as bestuurder van die destydse SWD Bontebokke - diet eerste span van kleur en die familie is trots om te sê hy was deel van die eenwording.
Evergreens-rugbyklub van Pacaltsdorp het hom voorgestel het om op die uitvoerende bestuur van SWD te dien. "Dis ‘n span wat hy ook vir baie jare geborg het," vertel Anton.
In 1995 word hy ook verkies tot die SWD Arende se professionele been as direkteur en as ‘n keurder saam met Heineke Meyer en Phil Pretorius\> Die SWD het in ‘n halfeindstryd teen Noord Transvaal gespeel.
In Riversdal het hy dadelik betrokke geraak by die Lions, duiweklub, gholfklub, rugbyklub en by die Riversdal-landbougenootskap, as visepresident en voorsitter van die terreinkomitee. Dit was vanjaar die 1ste skou wat hy in 32 jaar gemis het.
Wat borgskappe betref het hy definitief nie een skool of kerk oorgeslaan nie. Wat vleis betref het hy die hele Suid-Kaap en selfs die Paarl met kwaliteit bedien.
Johnny as mens
Hy was ‘n man wat altyd netjies was, elke dag geskeer. Altyd vriendelik en het gehou van gesels. ‘n Man wat erg was oor sy voertuie. As hulle gewas word, word die bande swart en blink gemaak. Hy het altyd gesê “jy gaan mos nie kerk toe met ‘n vuil paar skoene nie.”
Vir Anton was hy ‘n mentor en raadgewer, trots op sy kleinkinders, veral sy oogappel, John Charles jnr. met dieselfde name en op dieselfde dag gebore en wat ook in sy spore in die vleisbedryf gevolg het.
Op sosiale vlak was hy ‘n lekker mens, ‘n haan onder die henne, ‘n groot pêl. Soggens het hy, Makka, oorlede Ferdi Saayman, Hendrik Kruger en oom Hannes Duminy koffie gedrink by B&M Ford. Saans het hy, Ben Pierre, Frans Pype, oorlede Mike Uys en Hendrik Kruger 'n drankie of twee by die Central Hotel gedrink. Die span het ook later begin fietsry. Menige keer het die fietse sommer die aand by die Central Hotel oornag.
Hy en die manne het baie Saterdae op Nuweland gaan rugby kyk en selfs toetse in Bloemfontein, Durban, Pretoria en Johannesburg gaan bywoon.
Hy was ‘n man wat gehou het van vinnig ry. By die skou was hy en oom Joubert van Wyk altyd bymekaar en wanneer die skoukoningin gekroon is, was hy by.
Telkemale het hy die skoukoningin en haar prinsesse ingebring met sy Mercedes. Die dae toe hy Sondae van die Kaap afgekom het is daar Kentucky in Robertson gekoop, want Makka en HO kom gou ‘n drankie drink.
Johnny Swart en oorlede Charlotte Swiegelaar wat die kassiere was tot byna 80 jarige ouderdom.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'