Update Video
HEIDELBERG NUUS & VIDEO - "Julle behoort ook nou aan daardie uitgesoekte groep mense wat hulle eie eiendom besit. Die eiendomsmark is oor die 6 miljard Rand sterk en u as huiseienaars het nou deel geword van daardie mark. Hierdie titelakte kan vir u deure oopmaak en dit kan u ook in die diepste ellende laat verval. Pas dit op!"
Met hierdie woorde het die minister van menslike nedersettings: Wes-Kaap, Bonginkosi Madikizela op Dinsdag 19 Maart inwoners toegespreek.
Dit was tydens die oorhandiging van titelaktes aan mense wat die afgelope paar jaar huise van die regering ontvang het.
Die saal was stampvol mense wat 'n afskrif van hulle titelaktes kom ontvang het. Madikizela het die Hessequa-munisipaliteit geloof omdat hulle sowat 1200 titelaktes in 'n kort tydperk aan mense kon oorhandig.
Hy het verder bygevoeg: "Die grootste debat en strydpunt in ons land op die oomblik is die kwessie oor grond. Ons kom van 'n pynvolle verlede waar mense wederegtelik van hulle grond ontset is en wanneer ons vandag aan mense huise gee, dan is dit baie meer as net 'n stukkie grond met 'n huis op - dis om die pyn te verlig en om waardigheid terug te gee aan mense."
Daar was groot opgewondenheid onder die mense en van hulle het hul blydskap met Suid Kaap Forum gedeel.
Mara Johannes het vir 10 jaar met haar gestremde dogter in 'n sinkhok in die agterplaas van mense gewoon. "Toe ek die dag my huis kry, het dit vir my gevoel of ek die Lotto gewen het! Ek sal hierdie titelakte bewaar met alles wat ek het."
Lourens Muller het só gereageer: "Dis die beste ding wat ooit met my gebeur het. Ek het nie woorde nie. Ek het op die plase grootgeword en woon nou so agt jaar lank op die dorp".
Van die eerstes wat titelaktes ontvang het, was bejaardes, sommige reeds diep in die tagtigs. Onder hulle was Anna Oktober, Hester Saayman, John Februarie en Charmaine Sauls.
Vir die eerste keer in hulle lewens sal hulle nou 'n huis van hul eie besit.
Kyk 'n video hieronder:
Voor in die middel sit minister Bonginkosi Madikizela en die uitvoerende burgemeester van Hessequa, Grant Riddles, omring deur die bejaarde inwoners wat voorlopige titelaktes ontvang het. Foto: Alex Marshall, korrespondent
Lees 'n vorige artikel hier: Inwoners kry huise
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'