HEIDELBERG NUUS - Die gemeenskap steier nog onder die vlaag geweldsmisdade van die afgelope paar maande.
Dis nie net gesinsgeweld nie, maar ouers sit ook met hul hande in hul hare oor kinders wat op straat is, in plaas van in die skool en oor wie daar skynbaar min beheer is.
Die dubbele moord op twee bejaardes drie weke gelede het die dorp geskud. Mense vra nou: Hoeveel nog? Is daar dan niks wat ons kan doen om verdere verval te keer nie?
Suid Kaap Forum het met Anneline Hartnick, bekende gemeenskapsleier, drama-afrigter en oudleerkrag gesels en dieselfde vrae aan haar gestel.
Sy, eweneens, is diep ontsteld oor gebeure in die dorp. Sy stem saam dat die gemeenskap daadwerklik moet intree met dade, nie woorde nie en moet saamstaan om die orde te begin herstel. Die grootste gevaar nou, volgens haar, is dat mense gewoond mag raak aan 'n moord hier, en 'n ernstige aanranding daar.
"Dis goed dat die gemeenskap nog praat oor die moorde en die misdaad, asook drankmisbruik onder jong kinders. Dit wys dat ons mense dit nie aanvaar nie. Dis nou die tyd om die gemeenskap te betrek by 'Genoeg-is-Genoeg' aksies. Die gevaartekens is al vir 'n geruime tyd daar en was vir té lank geïgnoreer. Die inwoners sê: "Ons is trots op onse dorp. Hier's mense wat jare lank, in die skole, in die kerke, op die sportveld en op die gebied van die kunste gebou het om die dorp 'n hoë aansien te gee. Ons kinders en mense presteer op verskillende vlakke. Ons moet beskerm dit wat ons het. Ons sal moet sit en plan maak. En gou ook!"
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'