HEIDELBERG NUUS - Volgens Linzay Kouter, wat 'n teer plekkie het vir gestremdes, wil sy graag 'n verskil in hul lewens maak en het sy besluit om hulle Donderdag, 3 Desember op internasionale dag vir gestremdes te bederf.
Kouter, het opgemerk dat sedert sy haar weer op Heidelberg kom vestig het, daar geen instansies plaaslik is wat dié sektor bedien nie. Sy is vasberade om hulle in die toekoms van diens te wees.
Sy het met Sandra September, 'n voormalige maatskaplike hulpwerker, asook Petro Joseph, prinsipaal by Kleine Diamantjies-kleuterskool in verbinding getree om die dag te beplan.
Die 25 plus aanwesiges is deur Kouter verwelkom, waartydens sy haar visie verduidelik het. Sy het die borge bedank vir hul bydrae tot die sukses van die dag.
Angeline Pieterse, Ashwin Hendricks en Marlin Davids het die gaste met sang en gedigte trakteer. Kouter het ook spesiale dank aan die munisipaliteit, veral Andrew Stroebel (speaker) en Grant Riddles (uitvoerende burgemeester) oorgedra vir die gratis gebruik vir die saal en ander bydrae.
Die groep is met 'n ligte vingerete en versnaperings na die kort toesprake en sangitems trakteer.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'