HEIDELBERG NUUS - 'Ons is gereed!' sê Working on Fire se kantoor op die dorp.
"Die Working on Fire-stasie is goed toegerus en slaggereed vir enige noodgeval in Heidelberg, Slangrivier en Witsand," sê Thando Zonke, skofleier.
"Ons staan ook op gereedheidsvlak om enige tyd hulp te verleen waar brande ook al in die Hessequa- en Edenstreek mag uitbreek."
Volgens Zonke het die stasie vroeër vanjaar gehelp om brande in die Knysnagebied onder beheer te bring. "Ons lede het gehelp met die bestryding van die verwoestende brande wat dae lank in die Knysna-omgewing geduur het. Daar het van die lede baie ervaring in brandbestryding opgedoen."
Die span was op 2 Desember ook betrokke by 'n brand in die Witsand-omgewing. 'n Brand het van 'n plaas in die Malgas oor die rivier na 'n ander plaas versprei.
Zonke sê hy sal graag wil sien dat meer gedoen word om huiseienaars en werkers by besighede en op plase bewus te maak en op te lei om brande te voorkom en te help bestry. Hy meen opgeleide werkers sal instruksies wat hulle tydens brande ontvang, onmiddellik verstaan en presies uitvoer. Sulke paraatheid staan dikwels tussen lewe en dood of groot verwoesting.
Kontak 028 713 2222 om 'n brand aan te meld en verskaf die adres, omvang van die brand en of 'n ambulans benodig word.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'