Update
HEIDELBERG NUUS - Vier lede van Heidelberg-polisie is in die spervuur nadat hulle Saterdag, 5 Junie 'n jong man na bewering aangerand het toe hulle hom in 'n vrouelid se huis gekry het terwyl sy aan diens was.
Iemand het die polisie laat weet dat daar 'n persoon in die huis is.
Die vrouelid is saam met ander lede wat op patrollie was na die huis en volgens haar het sy die verdagte in die kamer gevind waar haar dogter lê en slaap het.
Hy het glo by die venster probeer uitspring, maar sy het hom na 'n gestoeiery, waartydens sy ook kneusplekke opgedoen het, met behulp van haar kollegas in hegtenis geneem.
Die verdagte is vir huisbraak en diefstal aangekla en het Maandagoggend, 7 Junie die eerste keer in die hof verskyn. Hy het na sy verskyning 'n klag van aanranding met die opset om ernstig te beseer teen die vier lede aanhangig gemaak.
Hy is Dinsdag, 8 Junie na die daghospitaal en volgens die mediese verslag wat die geneesheer voltooi het, is hy met 'n vuishou op die oog geslaan, asook tekens van poging tot verwurging en hy is teen die ribbes geskop.
Volgens die man, Ronwyne Pieters (20) van Diepkloof, het hy nie by die huis ingebreek nie.
"Ek het vroeër die aand saam met ander jongmense daar gekuier en het op die rusbank in die sitkamer aan die slaap geraak. Ek het later wakker geskrik en ontdek dat die ander weg is en het toe na die slaapkamer gegaan om te kyk hoe laat dit is."
Dis toe dat die polisievrou op hom afgekom het, beweer hy.
"Voor ek kon verduidelik het die polisie my aangerand, waarna hulle my in die vên gelaai het."
Hy beweer ook dat die eienaar van die huis hom met verdere aanranding gedreig het as hulle by die polisiestasie kom.
Vir kommentaar genader het kapt Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiekommunikasie-beampte bevestig dat vier lede vir aanranding ernstig aangekla is na 'n voorval Saterdagoggend, 5 Junie ongeveer 03:15.
"Daar word beweer dat die 20-jarige klaer in die betrokke lid se woning gevind is terwyl sy aan diens was. Verdere beweringe is dat hy deur die lede aangerand is, waartydens hy beserings aan sy gesig opgedoen het."
Pojie het gesê dat die saak na die onafhanklike klagte direktoraat (OPOD) vir verdere ondersoek verwys is. Hy het ook bevestig dat 'n departementele ondersoek gedoen sal word.
Vorige artikel: Polisie weer in die sop
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'