HEIDELBERG NUUS - Nog 'n drama is besig om hom by Heidelberg-polisiestasie af te speel na 'n offisier van seksuele aanranding aangekla is.
Dít volg nadat hy 'n vroulike werker by die dienssentrum na bewering op haar bors sou geslaan of betas het. Dié voorval het glo Maandag, 10 Mei gebeur toe die werker vir diens aangemeld het. Sy het eers Woensdag, 12 Mei die klag aanhangig gemaak.
Volgens kapt Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder het beide die werker, asook die offisier klagtes aanhangig gemaak.
Die offisier het op sy beurt teenklagtes van meineed en regsverydeling teen die klaer van die seksuele aanrandingklag gemaak.
Pojie noem dat enige bewering van geslagsgebaseerde geweld teen vroue of kinders in 'n baie ernstige lig beskou word.
"Sulke beweringe word deur die spesiale eenheid, in dié geval die polise se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe op Mosselbaai, waarvan 'n hoogs ervare ondersoekbeampte die klagtes sal ondersoek." Hy meld dat dit aan departementele ondersoeke onderworpe sal wees wat parallel met die kriminele ondersoeke geloods sal word.
"Die ondersoek is deurlopend," het Pojie beklemtoon. Vir kommentaar genader, het die plaaslike GPF-voorsitter, Heinrich Hartnick gesê dat die aanklag onder die aandag van die GPF-lede deur 'n senior ondersoekbeampte gebring is.
"Ons het onmiddellik versoek dat die nodige deursigtige prosesse gevolg moet word vir die ondersoek van die beweringe." Hy het bygevoeg dat hulle ingelig is dat die aangeleentheid na die provinsiale kommissaris verwys is. "Seksuele teistering is 'n growwe wangedrag, veral in die werksplek en ons hoop die ondersoek word spoedig afgehandel."
Intussen gons die dorp oor die jongste aangeleentheid, omdat dit nie die eerste keer is dat optredes teen sekere polisiebeamptes vanuit die gemeenskap geloods is nie. So onlangs as verlede jaar het inwoners die hulp van Chris Nissen, Wes-Kaapse voorsitter van die Menseregtekommissie ingeroep om die klagtes teen verskeie lede te ondersoek, waarvan die betrokke offisier ook een was.
Vorige artikel: Heidelberg-polisie weer in kollig
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'