HEIDELBERG NUUS - Een van die streek se toppolisiebeamptes het die sektor na byna vier dekades vaarwel geroep.
Lt.kol. Jeremy Lewak, die plaaslike polisiebevelvoerder, het besluit om na 35 jaar diens waarvan die laaste ses hiér was, uit te tree.
Hoewel sy laaste werksdag Saterdag 30 Junie was, het sy plaaslike kollegas en die bestuur van die Da Gamaskopstreek, onder leiding van brig. Gerhard Jantjies, Donderdag 14 Junie amptelik van hom afskeid geneem.
Die geleentheid is gebruik om na 18 jaar se getroue diens amptelik van ao. Andries Louw, afskeid te neem. Louw is nou in diens by die duikeenheid op Mosselbaai.
Tydens die verrigtinge in die plaaslike stadsaal, is hy met sertifikate van verdienstelikheid en geskenke vir sy passievolle jare lange diens vereer.
Kapt. Mervyn Zana het as seremoniemeester opgetree. Ao. Alroy Windvogel, het die verrigtinge met gebed geopen en die gaste verwelkom. Benewens Jantjies, het kol.
Mark Hartzenberg, lt.kol. Johnnie Stripp en lt.kol. Una Saayman, van die streekbestuur die verrigtinge bygewoon. Lede van die plaaslike GPF-bestuur, waaronder die ondervoorsitter, Magrieta Pieterse, was ook aanwesig.
Jantjies het tydens sy toespraak 'n kort geskiedenis oor Lewak se betrokkenheid sedert sy begin in 1983 by die polisie geskets. Lewak was na sy opleiding in Bishop Lavis by verskeie dienssentrums betrokke waaronder Wynberg, Riversdal, Ladismith, Albertinia en laastens op Heidelberg.
Lt.Kol. Jeremy Lewak, heel links voor saam met sy vrou, Celia, brig. Gerhard Jantjies en sy vrou Carol, en kapt. Mervyn Zana, waarnemende bevelvoerder. Agter staan: Kol. Mark Hartzenberg, sy vrou, Helen,lt.kol. Johnnie Stripp, lt.kol. Una en haar man, John Saayman. Foto: Clive Pretorius korrespondent
"Alles het 'n begin en 'n einde, die lewe is soos 'n wedren," het Jantjies met verwysing na apostel Paulus se Skriflesing verwys. "Terloops Paulus was ook 'n geregsdienaar. Gaan geniet jou aftrede saam met jou familie en vriende, my kollega en vriend. Jy verdien die rus," het Jantjies glimlaggend benadruk.
Volgens Jantjies laat Lewak se uittrede nou 'n groot leemte om te vul.
Pieterse het hom tydens haar kort toespraak hartlik bedank vir sy ondersteuning deur die jare. "Ons gaan jou baie mis, baie dankie vir wat jy vir ons as GPF, traumawerkers en gemeenskap beteken het."
Lewak het op sy beurt almal bedank vir hul bydrae tot sy sukses, maar veral sy vrou, vir haar ondersteuning deur dik en dun. Volgens hom is Heidelberg die beste dienssentrum waar hy al gewerk het. "Julle ondersteuning is vêrreikend, dit kan nie vergelyk word met enige stasie waar ek gewerk het nie. Julle is eenvoudig die beste," het hy gesê. Laastens het hy sy kollegas motiveer om die uitdagings te aanvaar.
Louw is deur Nicolette Meyer, administratiewe klerk bedank vir sy diens bydrae. Zana is intussen as waarnemende bevelvoerder aangestel.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'