Gallery Update Video
HEIDELBERG NUUS EN VIDEO'S - Die Heidelberg-landbouskou wat van 7 tot 9 Februarie aangebied is, het meer as 75 jaar gelede rondom perde ontstaan.
Suid-Kaap Forum was trotse mediaborg van dié geleentheid.
Die skou het met 'n damesontbyt saam met André Schwartz afgeskop. Hy het aan Suid-Kaap Forum gesê dat hy dit baie geniet het.
"Die gehoor het hulself meegeleef. Ek kan nie wag vir 'n volgende kuier nie. Ek is mal oor perde, so, dit is vir my lekker om die skou by te woon. Dit was fantasties om in die ou hotel te kon oornag. Die mense se gasvryheid is tops."
Klik hieronder vir fotogalerye:
Soos vandag was daar destyds ruiter- en trekperdklasse en dié kompetisie is steeds een van die hoogtepunte van die skou. Altesaam 180 perde was ingeskryf en was daar strawwe kompetisie in die ruiterkuns tussen deelnemers onder en bo 14.
Trekperde het aan die SA Hackney-streekkampioenskap deelgeneem en het Walliese en Hackney-ponies, Hackney-perde en statige swart Vlaamperde in spanne van twee, vier en ses ingesluit.
Stephan van Zyl, 'n sitrusboer van Buffeljagsrivier het die skou saam met sy dogter Marinelle (16) bygewoon. "Dis eintlik maar net vir my baie lekker om deel te neem," het dié leerder van Hoërskool Heidelberg gesê.
'n Bloedige Saterdag het jonges op 9 Februarie vir die beste plasing laat sweet. Kinders so jonk as vyf jaar het deelgeneem en die sweet het behoorlik teen hul gesigte afgerol terwyl hulle die diere geskou het. Jo-Ané Geldenhuys (5) het baie aandag getrek terwyl sy met 'n Charolais van 1 050 kg geskou het.
Vanjaar is jong kokke ook die geleentheid gegun om hul kookvernuf te wys. Bian van As (13) van die Hoër Landbouskool Oakdale het 'n eerste plek in sy afdeling los gekook tydens die kookkompetisie.
Die Jersey-kampioenskap het vertoners van die Oos- en Wes-Kaap gelok. "Die fokus is op die diere se genetiese komposisie, uierstelsel en algemene bouvorm wat die vroulike dier 'n funksionele melkbees maak," verduidelik Smiley Cronjé. Jerseys is gesogte melkbeeste weens die vaste stowwe wat die melk bevat. Die melk uit die streek word hoofsaaklik vir die kaasmark geproduseer.
Die Merino's word beoordeel op grond van goeie bouvorm. "Ons is betrokke by die kleinvee- en wolbedryf en ons borg die kompetisie vir ondersteuning en blootstelling," het Frans Hugo van OVK gesê.
Die hondeskou is ook met groot entoesiasme ondersteun. Die wenner in die Fancy Dress-kategorie was Piet van Deventer se Kayla, in die Look-alike-kategorie was dit Jody September se Fluffy en die hond met die raaiselagtigste herkoms was Stella van Danie Oosthuizen. Die groot hond-kategorie is gewen deur Marius Kluyts se Hector, die beste mediumgrootte-hond was Buddy Boy van Tanna en Kaylin Strydom; die klein hond-kategorie is gewen deur Sarah Valentine se Bella.
Die baba- en kleuterkompetisie het ook vir groot opwinding gesorg. "Daar was 51 inskrywings," sê Lindie Giliomee, organiseerder. Déane Roberts (6) is as die mini-skoukoningin, en Benjamin Geldenhuys (4) as mini-skouprins gekroon.
Ray Dylan en die Steakhouse se heerlike vleissnitte het die skou op 'n hoogtepunt afgesluit. Alle borge word vir hul bydraes en ondersteuning bedank.
Kyk drie video's hieronder:
Lees vorige artikels hier:
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'