Update
HEIDELBERG NUUS - Die lang verwagte algemene jaarvergadering van Heidelberg se gemeenskapspolisieforum (GPF) het uiteindelik plaasgevind waartydens 'n nuwe bestuur gekies is.
Die verrigtinge is Donderdagaand, 8 April in die Duivenhoks-gemeenskapsaal gehou.
Die vergadering is verskeie kere uitgestel; eers as gevolg van die Covid-19-inperking en twee keer omdat daar nie 'n kworum teenwoordig was nie. Dié keer is dit deur slegs ses instansies bygewoon, hoewel 11 instansies om lidmaatskap aansoek gedoen het.
In vergelyking met die 16 instansies wat verlede jaar aansoek gedoen het, blyk dit dat daar nie genoeg belangstelling vanuit die gemeenskap is om op so 'n belangrike entiteit te dien nie.
Onder die teenwoordiges was onder andere Heidelberg-polisie se stasiebevelvoerder, lt kol Sipho Dyani, sers Imorgene Hendricks, ao Andries Botha, ao Alroy Windvogel, asook Magrieta Pieters, voormalige waarnemende voorsitter.
Justin Lottring, streeksbestuurder van die departement gemeenskapsveilgheid wat as verkiesingsbeampte waargeneem het, het sy teleurstelling uitgespreek dat so min instansies teenwoordig was. Volgens hom was die afgelope jaar baie uitdagend met inagneming van die pandemie. Hy het die nuwe bestuur wat verkies is, aangepor om vertroue by die gemeenskap, sowel as by die polisie in te boesem. "Sodoende kan julle die vele uitdagings wat in ons gemeenskappe heers, hokslaan."
Pieters het gesê dat sy in die diep kant ingegooi was na Leon Page, die voormalige voorsitter se afsterwe. "Dit was nie 'n maklike tyd nie, maar ek het dit geniet om van diens te wees."
Hendricks het in die afwesigheid van die vorige kassier die finansiële verslag voorgehou.
Die volgende verteenwoordigers is tot die bestuur verkies: Heinrich Hartnick (voorsitter), Julian Buis (ondervoorsitter), Ben Daries (sekretaris), sers Imorgene Hendricks (hulpsekretaris), Ben Dell (kassier), Gameda Booysen (projekkoördineerder) en Magrieta Pieters (kommunikasiebeampte). Addisionele lede sou tydens die eerste bestuursvergadering op Maandag, 12 April gekoöpteer word.
Hartnick het die aanwesiges bedank vir hul vertroue in hom as voorsitter en gesê dat hy sy bes sal doen om die vertrouensverhouding tussen die polisie en die gemeenskap te herstel.
Instansies wat nog deel wil vorm van die GPF kan die aansoekvorm by die polisiestasie afhaal of met ao Alroy Windvogel, plaaslike kommunikasiebeampte in verbinding tree om 'n vorm te bekom (027 722 1910).
Die nuwe bestuur bestaan uit, agter, van links: Ben Dell, Ben Daries, Gameda Booysen, Magrieta Pieters en Justin Lottering. Voor: Julian Buis, lt kol Sipho Dyani, Heinrich Hartnick en sers Imorgene Hendricks. Foto's: Clive Pretorius
Vorige artikel: GPF-Bestuur eindelik verkies
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'