Gallery Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Filicity Pietersen sit op die trap van haar huis by Heesestraat 16 en kyk ver uit oor die dorp: Haar hartseer lê vlak.
Die dag na haar broer Steph Meyer (57) op 27 Julie koelbloedig in sy kamer agter en haar man Zane se huis vermoor is, was sy te ontsteld om te praat, maar op Vrouedag het sy kans gesien om die sluier te lig oor wat in haar gemoed aangaan oor die tragedie.
Sy vertel wat daardie oggend gebeur het: “Die Stilbaai-bus is 06:20 hier verby. Ons het ’n geraas buite by Steph se kamer gehoor, maar gedink dis maar net weer sy saamblyvrou Lisna Michaels wat soos gewoonlik met hom baklei. Maar die geraas het aangehou en ek het vir Zane gevra om te gaan kyk - hy was maar gewoonlik die vredemaker.”
Toe hy om die hoek kom, het hy gesien hoe iemand in ’n kappiebaadjie deur die doringdraadheining glip. Toe hy by Steph se kamer kom, het hy gesien die deur is oop en die plaat langs die deur is weggeskuif. “Hy het gesien Steph staan nog. Toe sak hy net binne die deur inmekaar. Hy kon nie praat nie. Zane het my geroep en toe ek nader kom, het ek Steph hoor roggel. Ek het vir Zane gesê my broer is dood.”
Daar was net ’n klein plassie bloed, hy moes met ’n baie skerp voorwerp gesteek gewees het, want hy het binnetoe gebloei, sê sy.
’n Buurman het die polisie en ambulansdiens gebel. Dit het ’n ruk geneem voor foto’s van die toneel geneem is en uiteindelik kon Jaco Pretorius van die forensiese patologiese afdeling sy liggaam wegneem. “Ao. Boer van Rensburg was nog op die toneel toe Lisna hier aangestap kom. Sy het nie Vrydagaand hier geslaap nie.”
Al was sy 10 jaar jonger, was sy maar altyd ’n ma en ’n sussie vir haar broer.
“Hy het dikwels hier by ons in die huis kom sit en dan het Zane vir hom outydse musiek waarvan hy so baie gehou het, gespeel. Hy het altyd gesê ons moet na hom kyk as hy siek word en ons moet hom begrawe. En toe is hy net skielik weg.”
Zane Koeries, die aangeklaagde het Woensdag 14 Augustus in die landdroshof om borgtog aansoek gedoen.
Kyk 'n video hieronder:
Lees 'n vorige artikel hier: Suster vertel oor broer se moord
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'