HEIDELBERG NUUS - Dit het vanjaar sowat R1 miljoen gekos om die sesde Hessequa Harmonie-kunstefees aan te bied.
"Danksy ruim borgskappe, goeie kaartjieverkope en die ondersteuning van vrygewige feesvriende is die kostes volledig gedelg," sê die uitvoerende hoof, Niël Rademan.
Vanjaar se borge sluit die Rupert-musiekstigting, die Jan Marais Nasionale Fonds, die Atterbury-trust, die Johan Brink-trust, die ATKV, Nati (die nasionale teater-inisiatief), BASA (Business & Arts South Africa) en die Wes-Kaapse regering in.
Tussen die feesvriende was Van Loveren, Wesgro-toerisme, Riversdal Toyota, Eureka Mills, Carmien-rooibostee en Fine Music Radio.
Nagenoeg 2 500 kaartjies is vir die twintig gehalte-produksies verkoop. Die kaartjiepryse het van R110 tot R300 gewissel - met 'n gemiddelde koste van R220 elk.
Heelparty van die aanbiedinge is vooraf uitverkoop.
Pa en seun. Alfred Rademan oorhandig die feesruiker aan sy seun, Niël, by die Dasjesdrift-teaterhuis. Foto: Amelia Uys, feesfotograaf.
Die topvyf produksies, bepaal deur gehoor-bywoning, was:
1. Die ATKV-galakonsert - wat oor die 1 200 kunstenaars en musiekliefhebbers in die NG Kerk verenig het vir 'n onvergeetlike teaterervaring.
2. Tango & Tanienne - 'n uitbundige buitelugproduksie met akkordeon en viool. Feesgangers kon tussendeur die Pinotage-koning, Beyers Truter, se bekroonde wynreeks proe.
3. Romantique - 'n produksie wat op die romantiese tydperk in musiek fokus en deur die dramatiese en emosionele kwaliteite van die natuur en literatuur begeester is.
4. Hans steek die Rubicon oor - die skreeusnaakse patos-komedie met die briljante akteur Charlie Bouguenon in Lizz Meiring se tydsberekende verwerking van Rudi van Rensburg se gewilde boek.
5. Die Charl du Plessis-trio se produksie 50 Ways to leave your lover deur die Charl du Plessis-trio. Dié trio kombineer klassieke musiek met invloede van jazz, pop en ander eklektiese style. In hul jongste aanbieding kry werke van die komponiste Bach, Beethoven en Grieg en die gewilde musiek van Paul Simon en ABBA 'n opwindende woema-inspuiting met improvisasie-verwerkings in 'n maraton-sinergie tussen die trio.
"Daar was uiteraard uitdagings, maar ook seëninge," sê Rademan.
"Die weer het tot op die voorlaaste dag saamgespeel. Ons is aan die natuur oorgelaat en moet altyd alternatiewe planne vir opelugaanbiedings hê. Die gehore het lief geraak vir die klein fees met die groot hart en hulle neem eienaarskap van die fees. Ons is dankbaar. Die galakonsert is vir my die naaste wat 'n mens aan die Skepper en 'n hemelse ervaring kan kom. Dit was bloot ongelooflik!"
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’