RIVERSDAL NUUS - Die einde van 'n era, toe klante dikwels op die boekie gehelp is, het aangebreek met Lena Cronje (néé Gelderblom) se dood op 6 Julie in Mediclinic Paarl.
'n Nuwe winkel, handeldrywend as JS Oosthuizen Algemene Handelaar word in 1956 deur Jan Oosthuizen in Wardenstraat begin. Die winkel verkoop van die spreekwoordelike anker tot 'n naald, van kruideniersware, skoene, klere tot materiaal.
Baie van die klante koop op die boekie by Mies Corrie, soos Jan se vrou bekend gestaan het. Corrie Oosthuizen (néé Borcherds) was vir die boekhoustelsel verantwoordelik. Lena en Grieta Laubcher was haar assistente. Die klein swart boekie was 'n kredietfasiliteit waarin klante hul bestellings neergeskryf het. Gewoonlik is die krediet op wedersydse vertroue verskaf en is die boekieskuld op betaaldag betaal. Goeie klante het dikwels 'n 'krismisbox' tydens die Kersfeesseisoen ontvang.
Corrie en Jan sterf beide gedurende 1988. Die gebou word verkoop en past. Crowther bedryf 'n kerk uit die perseel.
Lena was vroeër by Noah Karon se winkel werksaam. Na haar huwelik met Hannes Cronje werk sy by Blom se winkel en later by Jannie en Corrie.
Sy begin 'Corrie se winkel' uit die huis van oom Awie Erasmus, op die hoek van President CR Swart- en Dicksonstrate. Haar winkelassistent was Glenville Cupido. Die ligging is egter nie geskik nie en die winkel skuif na Kerkstraat, in die perseel vroeër bekend as Springbok Kafee. In 1994 sterf Hannes en Lena bedryf die winkel tot einde 1996. Later bedryf Joshua von Mollendorf 'n winkel met tweedehandse boumateriaal uit die perseel.
Lena het by haar woning in Barrystraat egter nog droëvrugte verkoop.
'n Dankseggingsdiens om dié merkwaardige vrou se lewe te vier, het op 12 Julie uit die NG Moederkerk plaasgevind.
Lees 'n vorige artikel: Die einde van 'n era
Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'