Update
RIVERSDAL NUUS - Esmé de Wet, 'n graad 12-leerder van Hoërskool Langenhoven op Riversdal het haar skoolloopbaan as musikant op 'n hoë noot voltooi.
Die Nellie du Toit-merieteprys vir die beste Unisa-sangkandidaat (graad 5) in Suid-Afrika is aan haar toegeken.
De Wet sê sy was oorweldig van vreugde toe sy gedurende November 'n posstuk ontvang het met die vermelding van haar sangprestasie. Die prestasie is ook vir Hoërskool Langenhoven 'n eer, aangesien dit die eerste keer is dat hierdie toekenning een van hul leerders te beurt geval het.
Sy het ook die Unisa graad 6-sangeksamen en graad 5-musiekteorie eksamen met eervolle vermelding geslaag. Haar musiekonderwyser is Johan Griebenhouw. De Wet vertel sy het reeds op laerskool by Christ Like Academy haar liefde vir musiek begin uitleef toe sy begin sing het. "Die laaste ses jaar het ek sang ernstig begin opneem."
Sy beskryf die Nellie du Toit-toekenning as 'n groot eer wat haar te beurt geval het.
Met strawwe naskoolse studies wat voor die deur lê waar sy BSc Biologie by die Universiteit van Pretoria gaan studeer, sê sy haar studies sal nou eerste kom, maar sy sal steeds bereid wees om in 'n koor te sing.
Vorige artikel: Musiekstudent wen gesogde toekenning
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'