ALBERTINIA NUUS - 'n Inwoner van Albertinia, wat nie sy naam genoem wil hê nie, is raadop met erwe op dié dorp wat nie skoongemaak of gesny word nie.
Anoniem reken die erwe waar die gras "lank staan" bied net geleenthede vir misdadigers.
"Die nuutste is dat rondlopers ons swart sakke steel en dit dan op die oop erwe opskeur om te sien wat daarin is."
Anoniem sê hy, "kla en bel nou al vir 'n jaar lank die munisipaliteit. Ek is eers verduidelik dat dit 'n 3-maande proses is, maar dis nou al ver langer en niks gebeur nie. Ek het self al die groot bosse gaan afsny om minder wegkruipplek vir misdadigers te gee. Ek het al e-posse ook gestuur, maar geen antwoord nie".
Verskeie ander inwoners in die omgewing loop glo ook deur. Die swart sakke wat weggedra word, is 'n groot kopseer.
"As jy hulle (rondlopers) sien sakke oopskeur en jy raas met hulle, word jy onder die rok gevloek of selfs erger."
Suid-Kaap Forum het Hessequa-munisipaliteit om kommentaar genader.
Munisipaliteit se kommentaar:
Ingevolge Hessequa-munisipaliteit se verordening met betrekking tot Openbare Oorlaste gedateer 23 Maart 2012, artikel 3(k), word eiendomseienaars nie toegelaat om 'n openbare oorlas te skep deur toe te laat dat vakante grond oorgroei raak met verwaarloosde gras, bome, struike of ander bewerkte of onbewerkte plantegroei nie.
Indien gevind word dat 'n eiendom oorgroei is, sal die eienaar dienooreenkomstig in kennis gestel word en versoek word om die eiendom skoon te maak.
Hessequa-munisipaliteit het op 25 Oktober 2022 'n klag vanaf mnr. Minnie per e-pos ontvang. Die betrokke erwe is geïnspekteer waarna 'n skrywe aan die eienaar van die oorgroeide erwe gedurende November 2022 gestuur is met die versoek om die erwe skoon te maak.
Die eienaar van die oorgroeide eiendomme, S.A. Nuclear Energy Corp, het egter nie op die munisipaliteit se brief gereageer nie.
Minnie is ook per e-pos gedurende November in kennis gestel dat die munisipaliteit sy klagte ontvang het en dat dit aandag geniet.
Hessequa-munisipaliteit is tans in proses om in terme van ons voorsienings-kanaalprosedures 'n nuwe plaaslike diensverskaffer aan te stel. Sodra hierdie aanstelling gemaak is, sal 'n privaat kontrakteur die erwe skoonmaak vir die rekening van die eienaar.
Hessequa-munisipaliteit het op Maandag 16 Januarie weer 'n ter plaatse inspeksie uitgevoer. Die munisipaliteit se tegniese dienste-afdeling sal die rommel van die geskeurde vullissakke verwyder, asook die SAPD en wetstoepassers in kennis stel van die probleem wat met die rondlopers ondervind word.
Anoniem het intussen laat weet die munisipaliteit het die gemors opgetel, maar nou nog nie die erf (gras) gesny nie.
Rommel op oop erwe is vir inwoners van Albertinia en die Hessequa-munisipaliteit 'n bron van kommer. Eienaars van die oorgroeide erwe is daarvoor verantwoordelik om dit netjies in stand te hou, maar van hulle steur hulle eenvoudig nie aan opdragte van die munisipaliteit om dit in stand te hou nie. Hessequa-munisipaliteit is tans in 'n proses om 'n privaat kontrakteur aan te stel om die erwe skoon te maak vir die rekening van die eienaar. Foto's: Verskaf
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'